Die afgebrande Shelley Point Hotel is vandag ’n seerplek in die hart van die luukse Shelley Point-landgoed ter herinnering aan die glorie wat was.


Die luukse Shelley Point-hotel, spa en gholfbaan in St. Helenabaai het presies ’n jaar gelede, op Dinsdag 2 Januarie, afgebrand.

Vir die eienaar, Gert Joubert, was dit hartseer, want die bou van dié ikoniese hotel was ’n “hartsaak”, het hy net ná die tragedie aan Weslander gesê.

Die hele affêre was emosioneel vir hom, want die hotel was meer as net ’n finansiële belegging. Dit was ’n “kunswerk; ’n Mona Lisa” wat geld nie kan vervang nie. Hy het oneindig tyd daaraan bestee om die kleinste besonderhede soos die Persiese tapyte in elke kamer te kies.

Vir Joubert was dit die mooiste hotel wat hy nog gesien het, en hy gaan gereeld oorsee. Die afbrand daarvan was ’n fel, persoonlike verlies.

Die brand het op dié Dinsdag omstreeks 06:00 uitgebreek en sowat 200 gaste – sommige nog in nagklere – en personeellede genoodsaak om uit die hotel te vlug.

Die feit dat niemand in die voorval beseer is nie, was vir Joubert baie belangrik.

Hy sê die hotel was ’n onontdekte diamant wat Suid-Afrikaners nie genoeg waardeer het nie, juis omdat dit aan die Weskus was. Die hotel, wat geheel en al met ’n rietdak bedek was, het sy deure in 2008 geopen en het benewens 88 suites ook drie restaurante, onderdakparkering, ’n skoonheidsalon en spa, gimnasium, konferensielokale, twee swembaddens en twee tennisbane gehad.

Joubert het die hotel gebou om waarde tot die Shelley Point-landgoed toe te voeg. Nou is net die afgebrande murasie oor en skade van nagenoeg R300 miljoen.

Daar is gerugte dat die hotel met luukse vakansiewoonstelle vervang gaan word, maar dit kon nog nie bevestig word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article