Op 8 Mei vier Afrikaans Amptelik 100 ’n mylpaal in die lang en kleurryke geskiedenis van die taal: die eeufees van Afrikaans as amptelike taal.

Hoe gaan hierdie eeufees-mylpaal van Afrikaans gevier word?

Afrikaans Amptelik 100 beplan ’n groot makietie en almal is genooi.

Dis die eerste van sy soort en gaan vir pret sorg:. Op 8 Mei begin die groot vieringe in die Wes-Kaap met ’n feesprogram in die Bo-Kaap, Genadendal en by die Taalmonument in die Paarl.. Van 22 tot 25 Mei neem Afrikaans Amptelik 100 die vieringe na Gauteng waar daar in Pretoria feesgevier gaan word met teaterproduksies op 28 en 29 Mei.

Waarna kan jy uitsien?

Musiekkonserte, ’n voedsel-en- wynfees, skolekompetisies, boekbekendstellings en gedenklesings om net ’n paar te noem.

Vir die res van die eeufeesjaar gaan daar teaterproduksies, koorwerke en seminare onder die Afrikaans 100-vaandel landwyd opgevoer en gehou word om sodoende die kleurryke laslappietaal se diversiteit saam met sy sprekers te vier.

Lank voor 1925 was daar reeds die geboorte van ’n taal met wortels van die Kaap tot in Griekwaland, van Arabies tot Nederlands.

Selfs ná 1925 het die taal bly groei en die huis het soveel meer kamers gekry waar almal welkom is.

Afrikaans is onlosmaaklik deel van Suid-Afrika.

Maak nie saak watter een van die land se twaalf amptelike tale jy praat nie – iewers is Afrikaans deel daarvan.

Aitsa, eina, laaitie en lekker. Braai, biltong, pap en wors. Babelaas, haibo en ghoema. Dis sêgoed en leenwoorde wat eie aan Afrikaans is en wyd gebruik word.

Awê, dis waar!

Afrikaans Amptelik 100 se eeufeesjaar gaan egter oor meer as net partytjie hou.

Impakprojekte saam met vennote en medewerkers sal verseker dat ’n nalatenskap agtergelaat word van ’n taal wat vriendelik, volhoubaar en toeganklik is.

Teken vandag nog in op hulle nuusbrief om die volledige programinhoud te ontvang.

Kom jy saam?

Is jy betrokke by ’n skool, organisasie, besigheid of klub, en wil graag jul eie viering in die feesmaand tussen 8 en 31 Mei aanbied?

Laat weet ons by info@afrikaans100.org en ontvang ’n amptelike partytjiepakket met idees en grafiese ontwerpe wat digitaal afgelaai kan word.

Jul eie logo sal op die Afrikaans 100 webblad gelaai word, jul foto’s word deel van die Afrikaans Eeufees-jaarboek en jou naam is in die gelukstrekking vir ’n kans om R10 000 te wen.

Die wenners sal in Junie 2025 aangekondig word.

Afrikaans is die geur van moerkoffie en varsgebakte melktert, die naghemel in die Karoo of die golwe van Bloubergstrand. Afrikaans is snoek en patat. Afrikaans is die dans van ’n riel of ’n tiekiedraai uit pure plesier. Afrikaans is almal s’n wat dit praat. Of dit jou moedertaal, jou eerste of selfs derde taal is, dis joune.

Ja, Afrikaans is ons s’n!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article