Daar in St. Helenabaai is ’n teater – die enigste aan daai kant van die kus – genoem na ’n ou wat ’n kunstenaar in eie reg was. Hulle het hom Bakman genoem – grootgeword in ’n plek genaamd Midwest, ’n klein sogenaamde bruin gemeenskap wat destyds onteien is. Die Bakman-teater is deesdae waar die Khoiman sy ding doen.

Ek skryf nie noodwendig resensies nie, maar soms noop iets goeds my om tog iets te sê en die Khoiman se verskyning op die Bakman se planke is een van hierdie gevalle. Die teater word deur die plaaslike kunstenaar Elton Lesch bedryf en die Khoiman is sy alter ego.

Die stuk begin met ’n “ge-klik-klik”-tongklap, (Khoi-tale) wat in die agtergrond gepraat word terwyl die Khoiman in sy dierevel op die verhoog stap met ’n bakkie waarin iets brand, asof hy die lug eers skoonmaak – ’n praise song; ’n ritueel uitgevoer. Kaalvoet, klik-klik, die scene word geset. Ons hoor van Krotoa, Autshumao, Doman (historiese Khoi-figure) en al die ander eerste mense van die Suid-punt van Afrika, wat hier bestaan gemaak het voor die koms van daai ander ou, Jan van Riebeeck.

Die Khoiman sinspeel met die woorde; die see, die skepe, die koms, en bring dit perfek terug na sy eie herkoms hier langs die Weskus.

Die ghoema die ghoema, ja die alibama, hy kom oor die see.

Die Khoiman vertel van die mense hier aan die kus, en veral oor die bruinvolk, hul herkoms, hul doendinge, hul sêgoed. Hy vertel oor die seer van die mense van Paternoster (Vaalplaas se mense) wat destyds noodgedwonge van hul grond verskuif is, hoe hulle moes toekyk hoe die bulldozers hul kliphuise kom sloop het.

Die ghoema die ghoema, ja die alibama, hy kom oor die see.

Hy vertel oor die snoekvangs van toeka, hoe verskillend, hoe anders. Duisende mense het destyds daar by die hawe in St. Helena opgedaag as die snoek geloop het. Die een soek ’n fraai (’n gratis snoek), die ander soek ’n site (werk) en die ander kom kyk in ekstase hoe die anties daai snoek binne sekondes vlek.

Die ghoema die ghoema, ja die alibama, hy kom oor die see.

Midwest? Dis waar die Khoiman baie van sy kinderjare deurgebring het. ’n Huisie by die see, net meters weg van die water, enige ou se droom. Daar het die ou kaalvoet geloop op die pikswart paaie wat besoedel was deur die visfabriek se stof. Hy vertel van die winkels, die twee deure – een vir die blankes, en die tweede een vir die ander.

“Ek was altyd te bang vir daai een deur, want by die huis is ons gewaarsku, wat as ons sou verdwyn?”

Die ghoema die ghoema, ja die alibama, hy kom oor die see.

Die stories en die gedigte wat hy voorgelees het, vertel oor die seer, die pyn, maar tog ook van die hoop. Ten spyte van soveel wat in die verlede verkeerd gegaan het, het die mense hier aan die Weskus tog aangehou hoop vir beter dae.

Soos die mense van Paternoster, wat ná meer as 20 jaar uiteindelik hul grond teruggekry het, wat tog hoop bring vir dié wat nog wag. Hy praat oor kerk, oor die Bybel, Korintiërs, “en al wat oorbly is hoop, geloof en liefde, maar die belangrikste van hul al drie is die liefde”.

Vir my was veral die stories oor die visvangs ’n oomblik van nostalgiese vreugde. Dit het my laat terugdink aan my pa en sy dae as visserman. Die stories van die vissersgemeenskap is uniek en moet behoue bly; bewaar en beskerm word. Ken jy die see, meneer, ken jy die see? Nou ja, wie gaan dan vertel van die mense wat hier bly en hul bestaan van hierdie see maak? Tog sal ons dit self moet doen. Die geskiedenisboeke moet van ons kan getuig, maar ons moet ons voetspore duidelik maak.

Die Khoiman doen wat ’n mens amper kan beskryf as God se werk, om die mense hier se stories lewe te gee met sy teaterstukke, sy gedigte, sy kunswerke.

Hy vertel byvoorbeeld van die ghellieblik, eie aan onse mense hier. Dit het my wragtag teruggeneem na my eie opbrengs – my pa was lief vir sy ou blik, jong.

Ons sou sommer gereeld in die winter die ghellie op die plaat in die huis bring om onsself warm te hou.

Ja, die mense hier het tog hul eie identiteit en kultuur, hul eie manier van dinge doen, hulle se eie stories.

Ja, en dit ou vriend, is die ghoema, die ghoema, ja die alibama, hy kom weer.. William Sezoe is ’n nagraadse student in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article