Karo van Tonder het die Afrika-seilplank-spoedrekord by die Wêreld-Spoedrekordkompetisie in Lüderitz, Namibië, met uithouvermoë en fokus oortref.
Dié seilplankryer van Langebaan het die Weskus trots by die geleentheid verteenwoordig en met ’n groot prestasie teruggekeer. Karo het in 2019 die Afrika-spoedrekord met 44,6 knope gemiddeld oor 500 m opgestel en dit op Sondag 1 Desember met ’n nuwe rekord van 46 knope gemiddeld oor 500 m en ’n topspoed van 48 knope oortref. Sy is slegs twee knope weg van die wêreldrekord. Jenna Gibson van Engeland hou tans die vrouewêreldrekord van 48 knope.
“Om wêreld- en nasionale spoedrekords in Lüderitz te verbeter, is baie gevaarlik en verg intense fisieke en psigiese voorbereiding. Daar is ’n 1 km lange mensgemaakte kanaal, 7 m wyd en slegs 25 cm diep. Slegs een klein foutjie kan tot ernstige beserings lei.
Karo, wat voorheen openlik oor haar verkragting in 2021 gepraat het, sê dit was vir haar belangrik, as deel van haar genesing, om ten volle weer te gaan deelneem en die land te verteenwoordig. “My nuwe Afrika- rekord het my die vyfde vinnigste vrou in die wêreld gemaak. My rekord is vir my ’n bewys dat ’n mens, met die regte hulp en ondersteuning, ernstige trauma kan oorleef en nog beter as vantevore kan vaar. Ek dra my rekord op aan alle slagoffers van soortgelyke trauma wat smag na hoop op herstel,” vertel Karo.
Om voor te brei vir die intensiewe fisieke uitdaging was ’n twee jaar lange proses. Die eerste jaar het Karo gefokus op haar tegniek en elke dag ure op die water bestee en die tweede jaar het sy ’n intensiewe oefenprogram met die hulp van ’n persoonlike afrigter, Aden Leibrandt, en biokinetikus, Aldo Scribante, gevolg.
“Die kombinasie in beide van hulle se programme het toegesien dat ek die sterkste weergawe moontlik van myself is en dat ek die stamina het wat dit verg om ’n rekord te verbeter. Die ander top-vroue in die sport het ’n baie hoër liggaamsgewig as ek – ongeveer 75 kg. Hoe swaarder en sterker jy is, hoe meer spoed kan jy in die stormsterk rukwinde wat gereeld teen meer as 100 km/h waai, behou. Ek moes daarom tydens die proses aansienlik gewig aansit.”
Karo meen sy is baie bevoorreg om in Langebaan – met die beste wind vir seilplankry – te woon. Dit is ook ’n pluspunt in haar voorbereiding. “Hier aan die Weskus is ons bederf met van die beste wind- en watertoestande vir hierdie sport. Hier is uitstekende leerskole wat wind- en watersport vir ’n mens toeganklik maak.”
Sy sê seilplankry is ’n groot deel van haar leefwyse en menswees. “Wanneer ek oor die water vlieg met al die elemente, geluide van die wind en gevoel van die golwe onder my bord, raak alledaagse probleme baie klein en kry ek soveel perspektief en waardering vir die lewe.”
Karo het nog baie wonderlike uitdagings en ervarings voor, waarna sy baie uitsien. “Ek hoop ek kan nog baie meer mense inspireer om aan hierdie wonderlike sport deel te neem,” sê sy.





