Is jy reg vir die 2025- Weskus-kuierkonsert? Maak gereed vir ’n volle dag se dans, samesyn en pret.
Die vierde Weskus-kuierkonsert vind vanjaar op Saterdag 8 Maart by die Laaiplek-hotel in Velddrif plaas, met die bekende Suid-Afrikaanse sanger Robbie Wessels wat besoekers sal laat uitsien na lekker dans en saamsing. Gaste kan ook uitsien na die komediant Barry Hilton wat jou uit jou maag sal laat lag.
Steyn en Lurina Fourie, die organiseerder van die fees, vertel dat daar iets vir almal sal wees om te geniet – jonk en oud. Een van die groot oomblikke op die dag is die weggee van ’n Jeep 4×4 geborg deur Jeep Bully’s in Kemptonpark. Alle volwassenes en pensioentrekkers wat ’n kaartjie koop om die konsert by te woon, geniet outomaties ’n kans om die wenner van dié gelukstrekking te wees. Nog ’n element wat vanjaar terugkeer, is die agteruitry-sleepwakompetisie, ’n gunsteling en gewilde aktiwiteit.
’n Ander element waarna almal kan uitsien, is die Edge of Fear-aktiwiteit (Fear Factor), aangebied deur Heinrich du Preez. Dit sal jou uithouvermoë, geduld en perke toets.
Gaste kan uitsien na plaaslike kunstenaars soos Vigeniëa Payne en Gerrie West, stalletjies, aktiwiteite en baie meer. Fourie sê ’n geldinsameling word ook gehou. “Ons bepaal ’n behoefte in die dorp en die geld word daar ingestoot. Dit is die hart van die Weskus-kuierkonsert om terug te gee en terug te ploeg in die gemeenskap.”
Maak seker jy loop dit nie mis nie.
Die hekke open om 10:00.
Kaartjies kos R185 vir volwassenes, R150 vir pensioentrekkers, R80 vir hoërskoolleerders en is gratis vir voorskool- en laerskoolleerders. Kaartjies is ook by weskustickets.co.za, die Laaiplek-hotel en Laaiplek Superspar te koop. Skakel 071 501 7460 vir nog inligting.





