Stanley Slingers, parkwagter.Foto: SanParke


’n Wakker parkwagter van die Weskus Nasionale Park by Langebaan se daadwerklike optrede het daartoe gelei dat sewe vermeende koperkabeldiewe Maandag (10 Februarie) vasgetrek is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die 35-jarige Stanley Slingers op sy rondes gesien die hek na die Langefontein-area se ketting is afgesny en met ’n plastiek-kabelbinder vervang.

Die Langefonteinhek is in die suidooste van die park geleë en bied toegang tot die gebied oos van die Weskuspad (R27).

Omdat in die verlede al koperkabels op dié stuk grond gesteel is, het hy onmiddellik die Langebaan-polisie laat weet.

Die polisie, lede van SanParke, die Weskus-honde-eenheid en die plaaslike blitspatrollie het omstreeks 00:15 saam na die gebou op die plaas gegaan en vier oortreders daar aangetref. Die mans was besig om koperkabels af te sny.

Al vier is in hegtenis geneem en met verdere patrollies op die plaas is nog drie verdagtes in hegtenis geneem en hul voertuig deursoek.

Eskom het intussen aan die polisie bevestig dat die sowat 123 kg koperkabels met ’n waarde van R17 835 en 28 kg PVC-draad met ’n waarde van R896 sy eiendom is.

Die sewe verdagtes tussen die ouderdomme van 32 en 51 sal vandag (Donderdag 13 Februarie) in die Hopefield-landdroshof op aanklagte van diefstal, inbraak en die kwaadwillige beskadiging van eiendom verskyn.


.
In ’n onverwante voorval is ’n 16-jarige seun Sondag 9 Februarie omstreeks 16:30 in Vredenburg in ’n skietery gewond. Hy het in die Vredenburg- provinsiale hospitaal aan die polisie erken dat hy besig was om koperkabels te steel toe ’n man op hom geskiet het. Hy is in die bors gewond.

Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord, maar het nog niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article