Hy is besig om sy luidsprekers te herstel, het ’n verdagte man aan polisiebeamptes gesê nadat hulle by hom stilgehou het.
Die 30-jarige verdagte het alleen langs sy motor in die middel van die nag in ’n parkeergebied in Vredenburg gestaan.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is egter op onwettige vuurwapens en ammunisie afgekom toe die Toyota Camry verlede Donderdag (20 Februarie) om 02:20 deursoek is.
Die man, wat in Waterkantstraat in ’n parkeergebied alleen langs die voertuig gestaan het, het glo verduidelik dat hy besig was om herstelwerk aan die luidsprekers te doen, waarop die patrollielede sy toestemming gevra het om die voertuig te deursoek.
Terwyl hulle besig was om in die bagasiebak te soek, het hulle gesien hoe hy blykbaar iets onder die bestuursitplek wegsteek.
Die polisiebeamptes het ’n swart Transnet-sak onder die bestuurder-sitplek gekry met twee vuurwapens, 36 lewendige rondes, een rooi para-vuurpyltjie-flair, ’n halwe Mandrax-tablet en drie klein sakkies met tik.
Die verdagte is om sy lisensies vir die vuurwapens en ammunisie gevra, waarop hy beweer het hy hou die vuurwapens vir ’n vriend. Die man is hierna in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en die onwettige besit van ammunisie, plofstof en dwelms. Hy het Vrydag (21 Februarie) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.


