Vredenburg se polisie, buurtwagte en veiligheidsmaatskappye voer gereeld massapatrollies in die nag uit om straatslapers en rondlopers te verwilder én hopelik inbrake en huisrooftogte in dié tyd te verhinder.
Die verskeidenheid messe en ander inbraaktoebehore wat keer op keer by nagsluipers afgeneem word, is kommerwekkend – van lang kombuis- en jagmesse tot selfvervaardigde kapmesse.
Vredenburg het ook ’n groot probleem met straatkinders wat in die nag onder groot stukke karton in stegies tussen sakeondernemings slaap. Baie van hulle kan ook bedags gesien word waar hulle gom snuif.
Weslander het tydens een so ’n massapatrollie die magteloosheid, woede en frustrasie duidelik op straatkinders se gesigte gesien toe veiligheidsbeamptes hulle in die nagtelike ure wakker maak.
Hulle was nie gelukkig daarmee om die sakekern te verlaat nie – weerlose kinders, uitgelewer aan ouer kinders en volwassenes wat maar net die kringloop van mishandeling en verwaarlosing voortsit, maar ook kindergesiggies wat reeds sukkel om hul aggressie teenoor gesag of reëls weg te steek en al op agt of nege jaar oud die lewe se gatkant kén; dit elke dag aan hul lywe voel.
Dit gaan uiteindelik om oorlewing. Vir só ’n straatkind is enigiemand met heel klere en geld vir ’n brood ’n teiken, want hulle het méér.
Die volgende geslag grypdiewe, inbrekers en huisrowers bly reeds op ons strate. Hoewel dit vir seker nie die hardwerkende inwoners van ’n dorp soos Vredenburg se skuld is nie, moet ons onsself afvra of ons langer anderpad kan kyk.
Is dit nie juis deel van die probleem nie?



