Die Weskus-polisie het in voortgesette optredes teen die verspreiding van dwelms in die Wes-Kaap ’n man in Vanrhynsdorp met Mandrax-tablette ter waarde van R155 750 in hegtenis geneem.
Volgens sers. Wesley Twigg, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die eenheid teen georganiseerde misdaad saam met beamptes van die Vanrhynsdorp-polisie en die Namakwaland-honde-eenheid ’n deursoekingslasbrief bekom nadat hulle ingelig is dat dwelms by die perseel in Kokerboomstraat weggesteek word.
Die polisie het Donderdag 27 Februarie toegeslaan en op sowat 3 155 Mandrax-tablette afgekom wat in aartappelsakke in die huis versteek was.
’n 29-jarige man is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van Mandrax-tablette.
Hy het die volgende dag, Vrydag 28 Februarie, in die Vanrhynsdorp-landdroshof verskyn.
Die saak is toe vir nadere ondersoek uitgestel.




