Brandbestryders van die Saldanhabaai-munisipaliteit was geskok om op die verkoolde lyk van ‘n vrou af te kom terwyl hulle besig was om ‘n veldbrand langs die Muggievlakte-buurt op Vredenburg te blus.
Die brandweer is die afgelope Dinsdag (17 Februarie) omstreeks 12:45 uitgeroep om ‘n veldbrand te kom blus.
Met die ontdekking van die lyk het hulle dadelik die Vredenburg-polisie in kennis gestel. Met die polisie se aankoms op die toneel was die liggaam egter reeds onherkenbaar uitgebrand.
Al wat seker is, is dat dit die oorskot van ‘n vrou is. Haar identiteit sal nou met forensiese toetse bepaal word, en daar is ‘n vermoede dat sy ‘n bekende hawelose in die dorp was.
Of sy vermoor is en of die brand dalk per abuis ontstaan het, word nog ondersoek.
Komberse onder die lyk laat die vermoede ontstaan dat die plek waar die brand ontstaan het moontlik as slaapplek gebruik is.
Die Vredenburg-polisie is besig met ‘n geregtelike nadoodse ondersoek.
◘ Kontak konst. Zikona Nyito van die Vredenburg-speurtak by 082 522 3326 met enige inligting oor wat tot die branddood kon gelei het.





