Ek glo dit is darem nog in orde om jou en jou gesin ‘n baie voorspoedige nuwe jaar toe te wens.
Met die splinternuwe jaar wat voor ons uitgestrek lê, vertrou ek dit sal met jou goed gaan. En wat die nuwe jaar ook al vir jou en my kan inhou, is dit my wens dat ons dit met ‘n geopende hart en gees sal verwelkom. Die goed saam met die minder goed, want …
Voordat jy kon sê mieliemeelpap met vissmoortjie daarby, is die feestyd iets van die verlede. En teen dié tyd weet julle mos al dat die winkels glad nie op hulle laat wag nie. Daai terug-skool-toe-“specials” word sommer al hier van laasjaar Oktober af uitgebasuin.
Daai rye by Pep Stores was seker weer ekstra lank op pad na die kasregisters toe! Dis mos maar een van daai dinge of jy nou daarvan hou of nie – die kloegoed se penne, potlode, uitveërs, boeke, nuwe skoolskoene en, noem maar op, moet gekoop word.
Daarvan het die aangewese skool vir jou kleinding, wat graad een begin het, seker gemaak. Ek voel die benoude oomblikke saam met daai ouers as hulle daai aardige skoolgoedlysie van die skool af ontvang. Sjoe, dis ‘n peperduur saak.
Met die intrapslag by die skoolgoedwinkel word jy sommer ook vriendelik herinner dat dit een van die dae al weer Valentynsdag is. En party groothandelaars laat glad nie op hulle wag nie. Hulle sit sommer nou al paaseiers op die rakke vir daai “early days specials”. Genugtig, ‘n mens se beursie het nog nie eens van die groot dae se uitgawes herstel nie! Hoe dit ookal sy, ons Suid-Afrikaners ken mos van rande rek en trek. Ons weet van eers die kinders uitgesorteer kry en later stres oor ‘n bos rose en tjoklits vir Valentynsdag of die groot geskarrel vir ingelegde vis wat hierdie jaar seker weer peperduur gaan wees. Wel, “we’ll cross that bridge when we get there!”
Januarie is amper op sy rug en vir baie van ons is dit seker ‘n groot verligting. Daai eerste salarisinbetaling vir die jaar was seker vir die meeste van ons ‘n groot verligting – om verskeie redes.
Een daarvan is dat daar darem weer kos in die huis gaan wees, want aai, die kloegoed het mos maar woes aangegaan as dit by die koskas kom.
Dit was vir my weer eens so ‘n stuk vreugde in die hart om te sien hoe ons graadeentjies ‘n nuwe fase in hul lewe aanpak. Al ons ander grade se leerders is ook waar hulle hoort – by die skool.
Maar dan het die jaar ook vir ons land op ‘n lae noot begin. Dit was nou maar eenmaal die hartverskeurendste nuus toe ons moes hoor dat 14 van ons kinders op so ‘n tragiese wyse op pad skool toe omgekom het. En as land was ons almal in rou gedompel, want dit kon jou kind gewees het wat in daardie ongeluk omgekom het.
Ons provinsie is nie direk daardeur geraak nie, maar ons voel die verlies van ander asof dit ons eie is. Iewers in ons eie provinsie sterf nog ‘n leerder by ‘n skool. Dit gryp aan die hart. Ons treur saam met die ouers wat direk geraak word.
Die hartseer gebeure wat hom so vroeg in hierdie jaar voor ons afgespeel het, herinner ons net opnuut aan die broosheid van hierdie lewe – en dat niks as vanselfsprekend aanvaar kan word nie. Niemand van ons is nog ‘n dag, nog ‘n maand of nog ‘n jaar gewaarborg nie; ook nie dat ons die een oomblik doodgelukkig en blakend gesond sal wees en net die volgende oomblik in ‘n hospitaal kan opeindig nie …
Dat die stille vriend van ons almal – die dood – ons maar oral vergesel, is ‘n feit. Hoe somber dit ook al klink, is dit ‘n feit wat ons nie kan wegredeneer nie. Hoe die einde vir ons elkeen sal en gaan aanbreek, is ons ook nie van seker nie.
Dit bring ook opnuut daardie pleidooi na ons as volwassenes dat ons te alle tye en onder alle omstandighede die belange van ons kinders eerste moet plaas – hetsy ons dit in die klaskamer, openbare vervoer, by die huis of waar ook al moet doen en toepas. Ons kinders is helaas die toekomstige leiers van môre. Ek het die wonderlike voorreg om daagliks die taak as opvoeder uit te oefen.
Ek besef daagliks wat ‘n groot verantwoordelikheid dit is. Ons kinders kyk op na ons as volwassenes om hulle te beskerm; om ‘n goeie voorbeeld te stel. Hulle vertrou ons om die regte leiding in die klaskamer te gee. Hulle vertrou ons as ons hulle veilig van die een plek na die ander moet neem (vervoer).
As opvoeder besef ek maar al te goed hoe daardie kind vir die grootste deel van sy of haar dag in my sorg geplaas word, en hoe die ouers van daardie kind hul vertroue in my plaas om goed na hulle kinders om te sien.
My stille gebed: mag die res van die jaar vir ons kinders voorspoedig wees.
En mag ek en jy alles in ons vermoë doen om ons leiers van môre goed toe te rus met alles wat hulle benodig.





