Die taxi het ná ‘n botsing teen ‘n motor teen dié paal op die kruising tussen Saldanhaweg en Voortrekkerstraat in Vredenburg tot stilstand gekom. Foto: Elowayne Gouws | West Coast Medical Rescue

Die Vredenburg-polisie ondersoek ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur nadat 13 mense in ‘n motorbotsing by die verkeerslig in Saldanhaweg naby die hospitaal beseer is.

Onder die beseerders is die bekende haarkapper Jaco Thiart en sy salon-assistent, Fillie Kearns, wat in ‘n taxi op pad huis toe was.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het die botsing Dinsdag (13 Januarie) omstreeks 15:15 gebeur.

Die vermoede is dat die bestuurder van ‘n motor én die taxi-bestuurder oor ‘n oranje verkeerslig gery het. Die bestuurder van die silwer Chev Aveo het na bewering regs gedraai om met Voortrekkerstraat op te ry toe die taxi vanuit die rigting van Saldanha oor die kruising gery het.

Die botsing het veroorsaak dat die taxi teen ‘n lamppaal te lande gekom het.

Volgens Elowayne Gouws van West Coast Medical Rescue het verskeie noodspanne saamgewerk om die beseerdes te assesseer en na Vredenburg se provinsiale hospitaal te vervoer. Thiart het ‘n sleutelbeen gekraak, ‘n rugwerwel verskuif en ‘n hou teen die kop gekry. Hy sterk tans tuis aan.

Kearns is na ‘n Kaapse hospitaal oorgeplaas. Haar presiese beserings en toestand was teen Weslander se druktyd nog nie bekend nie.

Die silwer Chev Aveo het teen ‘n aankomende taxi gebots.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article