Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sal verskeie maatreëls van die begin van die 2026-skooljaar instel om vroeëleeruitkomste in die Wes-Kaap te verbeter.
Volgens David Maynier, die Wes-Kaapse minister van onderwys, is die bou van goeie basiese vaardighede in geletterdheid en syfervaardigheid deur in die grondslagfase te belê, ‘n belangrike voorkeur vir die provinsie.
Die WKOD het in die derde kwartaal van 2022 bykomende tyd vir wiskunde en lees in die grondslagfase ingestel. ‘n Bykomende twee uur per week is aan lees toegeken en een ekstra uur per week vir wiskunde – alles binne die bestaande skooldag.
Gegewe die positiewe terug- voer van skole het die nasionale departement van basiese onderwys die implementering van die bykomende tyd in alle provinsies as ‘n tussentydse maatreël in 2023 en 2024 aanbeveel, wat die Wes-Kaap tot die einde van 2025 verleng het.
“Ons het skole in kennis gestel dat ons hierdie maatreël in 2026 sal voortsit, sodat die ontwikkeling van hierdie vaardighede in die skooldag ‘n voorkeur bly. Ons stel aan die begin van die skooljaar basislynassesserings van geletterd- heids- en syfervaardighede vir alle grondslagfase-leerders bekend. Dit sal informele, geïntegreerde assesserings wees wat deur onderwysers toegepas word met behulp van gestandardiseerde gereedskap, en gedetailleerde leiding is vir elke graad en taal verskaf. Die data sal aangeteken word om onderwysers, skole en die provinsie te help om gapings in leer vroeg te identifiseer en om ons intervensies aan te pas om leerders te ondersteun,” sê Maynier.
Hy sê alle skole is in kennis gestel dat leesvlotheidsmaatstawwe in die grondslagfase van die begin van die 2026- akademiese jaar ingestel en toegepas sal word.
“Maatstawwe per kwartaal, per graad, is van kritieke belang in onderwys omdat dit dien as duidelike, meetbare doelwitte wat onderrig, leer en assessering deur die skooljaar lei. Dit sal informele, geïntegreerde assesserings wees, wat deur onderwysers ingestel en toegepas word met behulp van gestandardiseerde gereedskap, en gedetailleerde leiding is vir elke graad en taal verskaf.
“Die data sal aangeteken word om onderwysers, skole en die provinsie te help om gapings in leer vroeg te identifiseer en om ons intervensies aan te pas om leerders te ondersteun.”
As deel van die aanvangsprojek het alle gr.1-onderwysers by 70 skole van reg oor die provinsie in Oktober opleiding ontvang. ‘n Volledige uitrol met opleiding vir die oorblywende gr.-1-onderwysers in die provinsie sal in 2026 volg en die WKOD beplan om die volle grondslagfase oor die volgende drie jaar te dek. “Ons bedank ons amptenare, skoolbestuurspanne en grondslagfase-onderwysers vir hul ondersteuning in die prioritisering van vroeëgraadgeletterdheid en -syfervaardigheid.”



