Van die wortels van die Ficus nitida is bo die grond sigbaar. Foto: Danie Hefers

Danie Hefers

Op sypaadjies in die Weskus groei ‘n vyeboomspesie: die Ficus nitida, ‘n wildevy. Dit is nie inheems nie, maar het heelwat in gemeen met van die sowat 850 ander wildevyspesies.

Ficus nitida en ander wildevye se kenmerkende en selfs “berugte” wortels is ‘n aggressiewe stelsel wat selfs bogronds verskyn. Dit moet nie naby heinings, woonhuise, plaveisel of swembaddens geplant word nie. ‘n Bekende feit wat enige boomkenner sal weet en teen waarsku. Maar, daar is klaarblyklik min hieraan gesteur toe dosyne van dié wildevye dekades gelede deur die destydse Vredenburg-munisipaliteit op sypaadjies in Hoofstraat-Wes in Muggievlakte geplant is. Vir beswaarde en moedelose inwoners het die Ficus nitida ‘n wortel van vele klagtes en probleme geword, met mure en plaveisel wat kraak en oplig, munisipale infrastruktuur soos waterpype wat deurloop, en selfs swembaddens wat bedreig word deur “lopende” wortels. Blykbaar tot twintig meter ver.

Gelukkig het die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) die pleidooie gehoor en reeds verskeie probleembome afgesaag en met gif behandel.

Volgens Tereza Burger, die SBM se mediawoordvoerder, is die betrokke bome in Hoofweg-Wes op Muggievlakte verwyder. “Die munisipaliteit kry gereeld klagtes in dié verband. Slegs vyf bome is al afgesaag. Vier is ook verwyder tydens die herstel van pypbreuke waar bome bo-op die waterpype geplant was. Daar is nie tans planne om nog af te saag nie, tensy daar nog skade is aan ondergrondse infrastruktuur.”

Volgens Burger groei die bome se wortelstelsel rondom die pyp en rig dan skade aan. Sy sê soortgelyke probleme word ook elders ervaar en die wildevybome is beslis die sondaar.

• In Januarie vanjaar is die bekende sestigjarige wildevyboom in Mosselbaai verwyder, nadat dit beskadig is.

Plek-plek is die Ficus nitida-bome al afgesaag en vergiftig. Foto: Danie Hefers

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article