As ek in die aand op die naat van my rug lê, na die sterre kyk en dink aan al die honderde derduisende mense op aarde, besef ek net weer die wonder van die skepping. Dink net hoe spesiaal elkeen van ons is. Daar is nie nog een soos jy met jou unieke grille, geite en goeters nie. Ons elkeen loop ons eie pad met ons eie denke, emosies en gedrag en niemand s’n is dieselfde nie, al loop ons langs mekaar. Dis soos rooibokke wat van ver af almal dieselfde lyk, maar kyk mooi, elkeen het sy eie besonderse merke. Almal loop die lewenspad, maar almal het sy eie lewenslesse wat geleer moet word – uniek en spesiaal net vir jou.

Dit het ek by my ouma geleer. Sy het altyd gesê: “Wat in jou wiegie gelê is, is in jou wiegie gelê en jy sal nie daarby verby kom nie”.

“Maak vrede met die lewe, my kind,” was haar gunstelingding om vir my te sê. Sien, ek het mos ‘n koppige hardekwas- geen in my lyf. Hou op om met die lewe te baklei soos een van daai bulle in ‘n China shop waar jy alles omstamp en breek.

My ma, die realis, het my geleer dat dít wat die moeite werd is, nie maklik kom nie. Dis seker soos daar in die Bybel staan: “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien.” Sy het my ook geleer dat niemand kom om jou te red nie. Dit is een van die kosbaarste lesse. Die tyd toe ek ‘n grondpad gestap het met haelstorms en donderweer om my, het sy my uit die bed kom jaag. Ek was bitter onsteld, want sy verstaan nie. Min het ek geweet sy ver-

staan presies, want niemand kan my lewe vir my leef nie. Ek moet besluit om aan te hou stap tot ek weer die blompad kry waar die son my gesig warm bak en ek weer die mooi van die lewe kan geniet.

In die bed lê is nie ‘n opsie nie. So, as jy die grondpad raakloop, gee jouself toestemming om so ‘n wyle net te rus, staan dan op en beur voort totdat jy die son in die verte sien opkom. Niks is vir altyd nie. Die goeie en die slegte het ‘n vervaldatum. My mantra: This too shall pass.

My pa, die filosoof, het my geleer dat daar goed is in almal van ons; sommige kies net om dit nie te wys nie. Vergewe, al vergewe ander jou nie. Die belangrikste – vergewe jouself, wat seker een van die moeilikste goed vir my is. Leef met liefde en kill them with kindness. As jy met haat en vergelding leef, is dit soos ‘n vuur in jou lyf en die vlamme vernietig jou binneste totdat net as oorbly. My pa het my geleer van onvoorwaarlike liefde – veral vir jou kinders; al raak hul soms die pad byster en vat hul verkeerde afdraaipaaie.

Die ding is – ons kinders doen wat ons doen, nie wat ons sê nie. As jy hulle nie gaan leer van tweede kanse en onvoorwaarlike liefde nie, al stem jy nie saam met hul lewenskeuse nie, wie gaan dan?

Daar is net twee sekerhede in ons lewens: Jy het ‘n begin, die dag as jy jou eerste aardse suurstof deur jou longe intrek, en ‘n einde, die dag wat jy jou laaste aardse suurstof deur jou longe uitblaas. Die tyd tussenin is ‘n verrassing en ek dink soms ‘n verassing. Of dit nou ‘n verrassing of ‘n verassing is – jy kry net een kans. My pa en ma was nie baie ingenome met my toe ek vir hulle verduidelik as hulle 80 jaar oud word, ons mekaar nog net 10 keer gaan sien nie. Die ding is, hulle bly ver en ons sien mekaar net twee keer ‘n jaar. Min het ek geweet ek sou my pa nog net ses keer sien. As ek enigeen raad kan gee – maak tyd vir die mense en dinge wat vir jou belangrik is. Ons almal is soos rose; ons blom en namate ons ouer word, verloor ons ons blomblare totdat niks oor is nie. Tyd wag vir niemand nie.

Ons elkeen kies wat ons glo. Ek kies om in die Drie-enige God te glo. Ons almal is net mens met voete van klei. Ek kan verkeerd wees en as ek is, moet die slim pastore en dominees my reghelp. Ek glo ons elkeen is hier op aarde met ons eie uniekheid om die lesse te leer wat net vir jou bedoel is. Jy is ook hier om ‘n spesifieke ding te kom doen.

Die dag as jy jou laaste blomblaar verloor, gaan jy nie gevra word wie jy tevrede gestel nie; ook nie hoeveel foute jy gemaak het nie. Ek glo die vraag gaan wees: “Was jy die beste jy wat jy kon wees, met jou grille, geite, goeters en foute? Het jy My liefde ‘n tasbare werklikheid gemaak vir ander wat jy op jou lewenspad raakgeloop het?”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article