Die Mandjie van Poste-toekenning vir 2025 sal vir 2026 behou word.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het onlangs in ‘n omsendbrief aan skole die personeelprosesse vir die 2026- akademiese jaar uiteengesit en bevestig die “Mandjie van Poste”-toekenning vir 2025 sal vir 2026 behou word.

Brent Walters, die hoof van die WKOD, het die omsendbrief uitgereik.

David Maynier, die Wes-Kaapse onderwysminister, meen hulle sal in staat wees om vir 35 934 poste voorsiening te maak. Dit volg op konsultasies met onderwysersvakbonde en skoolbeheerliggaamverenigings (SBL) rakende die algehele aantal onderwysposte vir die 2026-skooljaar.

“Verlede jaar het ons die moeilike besluit geneem om die aantal onderwysposte in ons stelsel te verminder om fiskaal volhoubaar te bly. Ons het gekies om kritieke leerderondersteuningsdienste soos skoolvoeding en -vervoer, skoolnorme-en-standaarde-betalings en ondersteuning vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes te beskerm. Ons het egter geweet ons besluit om poste te verminder, gaan baie druk op skole plaas.

“Hoewel die Mandjie van Postetoekenning vir 2025 dieselfde vir 2026 sal bly, erken ons dat die aantal leerders in ons skoolstelsel volgende jaar sal aanhou groei,” het Maynier gesê.

Hy het bygevoeg die WKOD staar ongelukkig steeds beduidende fiskale onsekerheid oor die medium termyn in die gesig.

“Reaksie op groei is afhanklik van meer sekerheid oor die begroting en daarom sal ons eers besluite hieroor kan neem sodra ons meer begrotingsekerheid vir die 2026-skooljaar het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article