Charlotte Lesch
Byna R700 000 se aartappels is die afgelope vier jaar in die omgewing van Malmesbury versprei om
hongersnood in die gebied te verlig.
Dit volg nadat ‘n sameloop van omstandighede die regte mense op die regte tyd en op die regte plek bymekaar gebring het en gesinne in nood nou oor die dorp heen van aartappels voorsien word – alles danksy die Malmesbury-uitreikprojek.
Ian Coetzee, die eienaar van die Table Mountain-gastehuis in Malmesbury, het Albert Wassenaar van die Kaap in 2021 by sy gastehuis ontmoet, waartydens hy Coetzee meer vertel het oor uitreikprojekte waar kos aan minderbevoorregte mense in die omgewing van Kaapstad versprei word. Dieselfde naweek het Coetzee ook Murray le Roux, ‘n direkteur van WEGO Fresh, by ‘n gesinsnaweek in Stanford ontmoet, wat hom op sy beurt vertel het hoe hy al drie maande op soek was na die regte organisasie sonder winsbejag om aartappels aan te skenk.
Wassenaar en Le Roux het intussen met mekaar in verbinding getree en die res is geskiedenis. “Van daar af het Albert dit op homself geneem om elke tweede Donderdag aartappels Malmesbury toe te bring. Ek het maar by Albert se visie ingeval,” sê Coetzee.
Sedertdien is aartappels ter waarde van sowat R700 000 in die omgewing van Malmesbury versprei en uitgedeel. Dit was deel van altesaam R1,5 miljoen se aartappels wat tussen die uitreikprojek in die Kaap en Malmesbury uitgedeel is.
Wassenaar ry die afgelope vier jaar lank getrou na Malmesbury om aartappels vir behoeftiges te kom uitdeel. Hy was boonop ook aktief betrokke by die Riverlands-ramp waar hy daagliks maaltye na inwoners
gebring het. Wassenaar sê egter hy is nie ‘n afleweringswerker nie, maar ‘n sendeling wat deur die verspreiding van aartappels die Evangelie kan verkondig. “My motief is nie om vir mense aartappels te gee nie, maar om mense vir Christus te bereik.”
‘n Ontbyt is die afgelope Saterdag (24 Mei) by die Malmesbury-gholfklub aangebied waar Coetzee, Wassenaar, Le Roux, trusteelede en betrokkenes by die verskillende uitreike, wat deel is van ‘n netwerk om ander in nood te help, bymekaargekom het om hul missie en visie vir die pad vorentoe te bespreek en te deel.
Wassenaar bieg en sê hy het sy hart reeds jare gelede in Malmesbury verloor. “Die ontbyt het ek reeds 20 jaar gelede sien gebeur,” vertel hy opgewonde. Dit was nadat ‘n boer jare terug nog in die destydse hotel vir hom gesê het die Here het hom en sy vriend met ‘n doel na Malmesbury gestuur. Volgens Wassenaar, wat homself as ‘n Imbongi – ‘n Xhosa-digter – beskryf, vind die meeste van sy sendingwerk onder die swart en bruin gemeenskappe plaas. Dit het egter vir hom al hoe meer duidelik geword dat die Here hom geroep het om Afrikaners te bereik, wat hy danksy die uitdeel van aartappels sal kan regkry.
“My motief is verder om algemene liefde onder mense te gee, maar my doel hier in Malmesbury is om minstens 220 minder bevoorregte mense te bereik.”
‘n Netwerk is intussen op die been ge-
bring wat uit die uitreik gespruit het waar inwoners uit verskillende oorde betrokke geraak het om te help aartappels versprei.
Coetzee meen baie mense wil nie hê ander moet weet hulle word gehelp nie. Volgens hom raak die nood net al hoe groter.
“Daar is baie mense wat nie besef wat ons hier doen nie. Dit is onnodig dat hulle honger is.”
Die Entwined Roots Trust, waarvan Stefan Steffen ‘n trusteelid is, is vir die geldsake van die uitreikprojek verantwoordelik. Die Entwined Roots Trust het ook bevestig dat aartappels ter waarde van altesaam R1,5 miljoen by WEGO Fresh ontvang is.






