“Die Boesmanland is ’n klipharde, ruwe landstreek met ’n sagte hart,” sê ’n plaaslike skrywer.
Die 71-jarige Susan Arends van St. Helenabaai vat ons op ’n reis deur haar kinderjare, wat in die Boesmanland afgespeel het, in haar debuutboek Driedoringbossie van die Boesmanland. Die boek is ook ’n ode aan haar pa en sy lewe.
Volgens Arends wou sy aan die begin vir haar kinders en kleinkinders ’n dokument opstel waarin sy meer met hulle deel oor haar lewe, haar pa, haar erfenis en haar kennis. Die dokument het toe later in ’n boek ontaard.
Die boek het Arends omtrent ’n jaar en ’n half geneem om te voltooi. “ ’n Plaaslike uitgewer het my gehelp met leiding en om die struktuur reg te kry en hoe om dit in ’n boek om te skep. Ek het nuwe woorde en nuwe konsepte ook geleer,” vertel Arends.
Sy sê sy kom uit ’n familie vol storievertellers en glo mense kan identifiseer met die plattelandse ervaringe en lewe.
“Die boek gaan oor regte mense en regte ervarings. Dit is kostelik om ons kinders van ons lewe destyds op die platteland te kan vertel.”
Arends sê sy weet nie wat die toekoms inhou nie en of sy nog ’n boek sal skryf nie, maar sê die proses het haar oë oopgemaak vir talle beskikbare moontlikhede in die buitewêreld.





