Die munisipale rade van die Bergrivier sowel as die Saldanhabaai het Dinsdag hul finale begroting vir die 2023-’24 boekjaar goedgekeur.
Soos baie huishoudings in die streek moes al twee munisipaliteite mooi kyk om hul boeke te laat klop. Inwoners kan deur die bank gereed maak vir tariefverhogings en uitsien na kapitale projekte in hul wyke.
Die Bergrivier-munisipaliteit se begroting is deur die burgemeester, Ray van Rooy, voorgelê.
Die volgende tariewe in die Bergrivier tree op 1 Julie in werking: Stygings van 7% in die koste van water, 20% vir vullisverwydering, 7% vir riooldienste, 10% vir eiendomsbelasting en 15,1% vir elektrisiteit.
Van Rooy het verduidelik ná afloop van die konsepbegroting is weer goed na die kapitaalbegroting gekyk en geld rondgeskuif om te verseker die begroting “spreek tot die behoeftes van die gemeenskap”. Onder meer word geld nou beskikbaar gestel vir spoedhobbels, die plavei van sypaadjies, en Kersliggies, terwyl die geld vir straatligte en die vervanging van watermeters gesnoei is. Van Rooy verduidelik genoeg van dié items is reeds aangekoop en dit moet eers gebruik word voordat die uitgawe vir nuwe ligte en meters geregverdig kan word.
Saldanhabaai se begroting is deur die burgemeester, André Truter, in ’n hibride sessie – in die raadsaal en aanlyn – voorgelê. Truter het gesê die munisipaliteit se 2023-’24- kapitaalbegroting het vier hooffokusse – rioolinfrastruktuur, paaie en stormwater, elektrisiteitsprojekte en 28 projekte wat onder waterdienste val. Saldanhabaai-inwoners se munisipale tariewe styg ook op 1 Julie: Elektrisiteit styg met 15,1%, water met 5,3%, vullisverwydering met 6,5%, sanitasie met 15%, eiendomsbelasting met 7,5% en alle ander munisipale tariewe met 6,5%.
Hoewel die begroting met ’n 15-10-meerderheid aanvaar is, kla die opposisie die begroting spreek nie tot die daaglikse uitdagings waarmee Jan Alleman sukkel nie.




