Die jaar het groot nuus opgelewer, wat deur beurtkrag, staatskaping en korrupsie oorheers is. Die Weskus het ook sy kwota gehad en talle nuusgebeure het die hoofopskrifte gehaal. In hierdie laaste uitgawe van Weslander vir 2022, wat vandag (Donderdag 15 Desember) op die rakke verskyn, kyk ons terug op van die afgelope jaar se grootste plaaslike nuusgebeure:
Januarie
Die jaar 2022 was nog nie twee dae oud nie toe ’n hartverskeurende tragedie ’n familie van Piketberg op tweede Nuwejaarsdag tref.
Weslander het op sy voorblad van 13 Januarie (die eerste koerant van die jaar) berig Natasha Booise (32) het in Hoofweg in Piketberg saam met haar seun (11) en ander familielede gestap toe haar polisiekêrel, Richard Smith, haar glo met sy dienspistool doodgeskiet het. Hy het ook op Booise se familie geskiet, maar nog mense is genadiglik nie in die voorval beseer nie.
Die opspraakwekkende moord het skokgolwe oor die hele provinsie gestuur in ’n tyd wat die stryd teen gesinsgeweld in Suid-Afrika baie aandag in die mediakollig geniet en selfs die president, Cyril Ramaphosa, na geslagsgeweld as die tweede nasionale pandemie verwys het.
Smith se regsverteenwoordiger, Bruce Hendricks, het op 25 November in die Kaapse hooggeregshof gesê Smith beplan om ’n pleitooreenkoms met die staat aan te gaan.
Februarie
Die viervoetiges van die diereryk het Weslander se voorblaaie in Februarie oorheers. Op die voorblad van 17 Februarie is berig oor inwoners se ontsteltenis weens ’n massaskietery van Springbokke by die Langebaan Country Estate in Langebaan, en op die 24ste se voorblad het die storie van ’n bok-ma wat twee babahondjies op ’n plaas in die Dwarskersbos-omgewing aangeneem het, talle lesers se harte geroer. Die bok het haar lammertjies verloor in dieselfde tyd dat die skaaphondjies hul ma verloor het. Die eienaar se seun het dit goedgedink om die bok en die hondjies bymekaar te sit en sy het die twee weeshondjies maklik aangeneem en hulle toegelaat om aan haar te drink.
Maart
Een van die grootste nuusstories aan die Weskus was in Maart oor die herlewing van die Elandsfontein-fosfaatmyn naby Hopefield. Hierdie nuus het veral die aandag getrek omdat die sluiting van die Elandsfonteinmyn weens verskeie uitdagings in Julie 2017, asook die sluiting van die staalreus ArcelorMittal se Saldanha-aanleg in Maart 2020 tot groot plaaslike werksverlies en armoede onder plaaslike gesinne gelei het. Weslander het op 24 Maart berig dat die Elandsfonteinmyn ná jare se produksiestilstand uiteindelik gereed was om sy eerste vrag fosfaat na die Saldanha-hawe te stuur. Verskeie plaaslike inwoners is in hul ou poste heraangestel.
April
Die munisipale begroting en veral die styging van munisipale tariewe was op almal se lippe. Elektrisiteit en die voortslepende beurtkrag het almal van Jan Alleman tot plaaslike burgemeesters oor dié moontlike tariefverhoging onthuts.
ArcolerMittal SA (Amsa) het sy planne bekend gemaak om moontlik sy eie elektrisiteit op te wek. Hierdie planne kan nuwe lewe vir die geslote Saldanha-aanleg bring.
Mei
Die oud-polisieman Jean-Paul Malgas (39) is in hegtenis geneem nadat hy vermoedelik ’n Hopefield-polisiebeampte aangeval en in ’n tweede voorval drie mense in ’n Kaapse hospitaal geskiet het.
Malgas (39) het na bewering op 7 Mei twee pasiënte en ’n polisiesersant in die New Somerset-hospitaal doodgeskiet nadat hy ’n ander polisieman van Hopefield op 5 Mei met ’n mes gesteek het. Hy het ’n stewige misdaadrekord en ’n geskiedenis van geweld wat tot 2003 terugstrek.
Die plaaslike polisie het bevestig Malgas het al van 2003 af in ’n Graaff-Reinet-saak met die gereg gebots toe hy vir aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekeer is. Hy is egter destyds onskuldig bevind.
Vir Weslander was dit ’n besonderse maand met die koerant wat sy 50ste verjaarsdag gevier het!
Junie
Wyle El-Jay Wallen Meyer se dood het wyd opspraak gemaak nadat die seuntjie se lyk by die sogenaamde Jesus-klip in Vredenburg ontdek is. Later is bevind die seun het van dié klip, agter die Weskus Mall, afgeval. Dié leerder van Eden Primêr in Vredenburg het die naweek weggeraak toe hy laas glo saam met sy maats gesien is. Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, het die polisie die Maandag na die seuntjie begin soek nadat hy amptelik as vermis aangemeld is.
Die polisie het bloedbevlekte klere in ’n oop drein naby die toneel gevind en ’n gerug het gou onder omstanders versprei dat hierdie klere moontlik met El-Jay se dood verband kan hou. Dit is egter later bevind die klere het niks met die seun se dood te doen gehad nie.
In die Bergrivier is fees gevier met die wêreldbekende Bergrivier-monding wat as ’n Ramsar-bewaringsgebied verklaar is. Die streek was ook verheug oor die Velddrif-seun Donovan Don se opname in die o.20- junior Springbokspan.
Julie
Kan die groot voorgestelde salarisverhogings geregverdig word? Weslander het in Julie berig oor die voorstel dat die munisipale bestuurderpos se salaris met sowat R600 000 styg. Dit het hewige debat in die raadsaal meegebring. Volgens Sammy Claassen, ’n raadslid by die Saldanhabaai-munisipaliteit vir die Patriotic Alliance (PA), het die party die voorgestelde salarisverhoging verwerp omdat dit te duur vir belastingbetalers sal wees. Die munisipaliteit het egter gereken hoër salarisse vir die topbestuur sal tot die voordeel van die munisipaliteit en die gemeenskap wees.
Augustus
’n Jong konstruksiewerker is in wat as ’n “fratsongeluk” beskryf word, op ’n bouperseel in Saldanha dood. Die voorval het Vrydag 12 Augustus gebeur. Die twee werkers, van wie een van die werkers Ronan Serfontein (20) was, wat gesterf het, was besig om aan ’n ondergrondse pyp te werk toe die betrokke pyp skielik vol water geword het. Volgens AO Yolanda Kotze is verdrinking waarskynlik die oorsaak van Serfontein se dood, “maar mense moenie bespiegel nie”, het sy destyds gesê.
September
Die poging tot moord op die plaaslike raadslid Sibusiso Gqeba van die Saldanhabaai-munisipaliteit (Wyk 9: Ongegund, Vredenburg) het opnuut die soeklig op die veiligheid van raadslede geplaas met talle raadslede wat in vrees leef. Gqebe is Donderdagaand 1 September geskiet. Hy was ’n passasier in ’n Toyota Conquest toe iemand glo skielik op hom en die bestuurder van die motor losgebrand het.
Oktober
Die moord op die bekende sakeman Bernard Pedro van St. Helenabaai het skokgolwe deur die Weskus gestuur ná ’n rooftog by sy sakeonderneming op Vrydagaand 14 Oktober.
Die liggaam van die sakeman en mede-eienaar van BP Marine in St. Helenabaai is die volgende oggend deur personeellede in die winkel aangetref.
November
Openbare geweld en die beskadiging van busse en private eiendom weens ’n taxi-staking in die Wes-Kaap het tot groot ontwrigting en finansiële plaaslike skade gelei nadat paaie versper, bande gebrand en talle voertuie se vensters met klippe stukkend gegooi is. Talle inwoners van Vredenburg, Saldanha en St. Helenabaai is deur betogers verhinder om hul woonbuurte te verlaat om werk toe te gaan. Sommige Saldanha-winkels is om veiligheidsredes gesluit.
Desember
Met vanjaar se opening van die veldtog vir 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders het die Wes-Kaapse polisiekommissaris, luitenant-generaal Thembisile Patekile, beklemtoon geslags- en gesinsgeweld is ’n reuseprobleem wat 365 dae van die jaar moet aandag kry, nie net 16 dae nie. Hy het ook gesê polisiekantore moet plaaslik ’n lys van alle bejaarde mense in hul bedieningsgebied opstel en byhou en hulle moet gereeld besoek aan hierdie mense aflê om seker te maak hulle word nie misbruik of verwaarloos nie.





