Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkeling, het die afgelope week altesaam 15 munisipaliteite en entiteite in die Wes-Kaap gelukgewens met hul Bloudruppel-status, soos gepubliseer deur die nasionale departement van water en sanitasie.

Die verslag evalueer watervoorsiensingstelsels volgens die kapasiteit waarvoor dit ontwerp was, watergehalte, tegniese vaardigheid en waterveiligheidsplan. Die Bergrivier-, Swartland- en Saldanhabaai-munisipaliteit is drie van die munisipaliteite wat daarin geslaag het om elk sy Bloudruppel-status te behou.

Bredell het in ’n verklaring uitgebrei oor die vorige verslag van 2014, wat agt Bloudruppel-sertifikate opgelewer het. “Ons het vordering gemaak. Daarom bedank ons en gee ons erkenning aan al die entiteite wat hard gewerk het om hul status te behou, maar ook dié wat op ’n baie belangrike vorm van dienslewering verbeter het.”

Volgens Bredell moet die uitdagings wat in die verslag uitgewys is, aandag kry. Altesaam agt watervoorsieningstelsels in die provinsie is in ’n kritieke toestand. Die departement van plaaslike regering stel tans ondersoek in na dié toestand en die oorsaak daarvan. Die Wes-Kaap beskik oor 25 waterdiensowerhede, wat 124 watervoorsieningstelsels insluit en daagliks ’n gemiddeld van 1 162 422 kiloliters behandel. Die provinsie het volgens die verslag ’n daaglikse beskikbare kapasiteit van 2 163 000 kl.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article