Weslander is opgewonde om weer vanjaar sy Vroueontbyt aan te bied.
Dié lekker kuieroggend kom Vrydag 4 Augustus om 09:30 vir 10:00 by die Saldanhabaai-hotel aan die beurt.
Die tema vanjaar is Denims and Diamonds.
“Ons wil vanjaar regtig net ’n atmosfeer bied waar vroue gemaklik agteroor kan kom sit, afskakel van die gedruis en verantwoordelikhede daar buite en vir ’n oomblik net die kans geniet om teenwoordig te wees en ’n bietjie met ander vroue brood te breek,” sê Maryke Swart, redakteur van Weskus Media.
“Om op verlede jaar se geselligheid voort te bou, word 100 kaartjies vanjaar beskikbaar gestel – dubbel die kapasiteit van verlede jaar. Ons is ook opgewonde om ’n bekende in die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld te kon inkatrol, wat as gasspreker sal optree. Sy bring ’n ekstra spesiale element tot die oggend en ons is positief dat die vroue sal wegstap met nuwe moed en ’n lied in hul hart,” sê Swart.
Die gasspreker is niemand anders nie as Lindie Stander (47), ’n ervare aktrise en veral bekend vir haar rol as die pittige Elise in kykNET se Binnelanders.
Lindie sal ’n motiveringspraatjie lewer en ook gesels oor haar eerste boek, getiteld Agter my glimlag.
Sy het haar ná vele lewensuitdagings in Langebaan tuisgemaak, waar sy tans ’n pos as hoof van drama by Long Acres Privaatskool beklee. Kykers sien haar egter nog elke nou en dan in Binnelanders se gange wanneer sy Johannesburg toe reis vir televisiewerk. Sy en haar lewensmaat, Santjie, woon in ’n kothuis op ’n kleinhoewe saam met haar drie honde en ’n vet kat.
Kaartjies kos R250 per persoon en sluit ’n buffetontbyt in. Elke vrou sal ook ’n klein geskenkpakkie ontvang.
Heerlike pryse is weer op die spel.
Kaartjies is beskikbaar by Weslander se kantoor in Velddrifweg 26, Vredenburg (slegs kontant) of bel Linda by 022 713 1251 vir elektroniese inbetalings. Slegs 100 kaartjies is te koop en geen kaartjies sal by die saal verkoop word nie.



