Die slikbedekte verfrommelde Volkswagen Polo waaruit ’n vrou met reddingskake gesny is, is vir ondersoekdoeleindes na afloop van die botsing Maandagoggend na die Vredenburg-polisiekantoor geneem.


Die polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag nadat ’n motor in ’n vlak moeras in Paternoster beland het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het die noodlottige voorval Maandag 25 April in die donker oggendure gebeur.

Die bestuurder van die swart Volkswagen Polo het naby die ingang van die dorp vermoedelik beheer oor die motor verloor.

Die Polo het glo van die pad af gery en eers teen ’n struktuur gebots voordat die motor ’n hele ent die veld in gery het.

Dit het in ’n vlak moeras tot stilstand gekom.

Die voorval het om 03:25 gebeur.

Met reddingswerkers se aankoms op die toneel het twee mans, wat vermoedelik uitgeval het, buite die Polo gelê.

Een van die mans is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem.

Die ander man is op die toneel dood.

’n Vroulike passasier was in die watergevulde motor vasgepen, en volgens Helfrich het dit ’n paar uur geneem om haar met reddingskake uit die voertuig te haal.

Die vrou het hoofbeserings opgedoen.

Omdat die beseerde oorlewendes tans nie in staat is om ’n verklaring af te lê nie, is dit steeds onduidelik wie die voertuig bestuur het.

Die polisie ondersoek die oorsaak van die botsing.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article