Mense word gewaarsku om waaksaam te wees wanneer dit kom by vreemde nagtelike dierebewegings of gebeure.


Die raaisel rondom die dood van twee honde in Blesbokstraat, St Helena, verstom owerhede.

Twee honde is met gapende wonde gevind en hul liggame is aan die linkerkant oopgesny. Hul ingewande het uitgehang en ’n paar ribbes is verwyder.

Wat dit meer raaiselagtig maak, is dat daar geen bloed op die toneel is nie. Dierewelsyn-inspekteurs van Blessings het groot pootafdrukke, groter as dié van ’n hond, op die toneel gesien.

Die voorval het in die vroeë oggendure van 15 November, omstreeks 03:00, gebeur. Tydens die voorval het die slagoffer en ander honde in die buurt verskriklik geblaf, en die slagoffer het ook vreeslik getjank. Daar was geluide van ’n bakleiery.

Die eienaar van die hond en haar kinders was te bang om buite te gaan.

Die volgende oggend het die seun sy hond gaan soek, en die bure het gesê dat hulle op die aaklige toneel van sy erg vermikte hond afgekom het. Hulle het gesien dat sy hond se maag oopgesny is. Die seun het gaan kyk en op sy dooie hond afgekom.

“Dit was skrikwekkend. Ons het nie uitgegaan nie, want die hond se gehuil was baie traumaties. Ek kan selfs nou nog hoor hoe huil hy,” het die eienaar van die hond gesê.

Toe die seun die personeel van Blessings Animal Welfare ontbied het, was hulle ook geskok oor die toestand waarin die hond was.

Hulle het die spore van ’n katagtige dier langs die lyk gesien.

Die Donderdag van dieselfde week om dieselfde uur was die honde weer aan die blaf en nog ’n hond is die oggend met dieselfde wond as die eerste hond gevind. Daar was in dié geval ook nie bloed om of aan die liggaam van die hond nie gevind nie.

Mense word gewaarsku om waaksaam te wees wanneer dit kom by vreemde nagtelike dierebewegings of gebeure. As iemand dieselfde soort geheimsinnige dood van hul honde ervaar het, moet hulle dit by Blessings Animal Welfare aanmeld.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article