Die veelbesproke hofsaak wat sal handel oor die beweerde aanranding van ‘n 81-jarige slagoffer by ‘n ouetehuis in Welkom, is tot 21 Augustus uitgestel
Die veelbesproke hofsaak wat sal handel oor die beweerde aanranding van ‘n 81-jarige slagoffer by ‘n ouetehuis in Welkom, is tot 30 November uitgestel. FOTO: Marti Will

Welkom-ouetehuissaak weer uitgestel: Nuwe aanklagte bring verdere vertraging

Die veelbesproke hofsaak wat sal handel oor die beweerde aanranding van ‘n 81-jarige slagoffer by ‘n ouetehuis in Welkom, is tot 21 Augustus uitgestel
Die veelbesproke hofsaak wat sal handel oor die beweerde aanranding van ‘n 81-jarige slagoffer by ‘n ouetehuis in Welkom, is tot 30 November uitgestel. FOTO: Marti Will

WELKOM – Die strafsaak teen Lynette Brummer en haar vyf medebeskuldigdes in die opspraakwekkende Welkom-ouetehuissaak is weer uitgestel, dié keer tot 30 November, nadat die verdediging meer tyd gevra het om die nuwe aanklagte te bespreek.

Louis Botha, regsverteenwoordiger van beskuldigdes 1 en 2, het Maandag 2 November by die Welkom-landdroshof om uitstel aansoek gedoen. Hy het aangevoer dat hy nog nie die nuwe dossier ontvang het nie.

Die staatsaanklaer het egter aan die hof bevestig dat die betrokke dokumentasie reeds op 23 Oktober deur die staat oorhandig is.

Streeklanddros Ludidi het die saak tot 30 November uitgestel om die verdediging geleentheid te gee om oor die bykomende aanklagte te konsulteer.

Nuwe aanklag ingevolge Wet op Ouer Persone

Die bykomende aanklag (aanklag 5) hou verband met ’n beweerde oortreding van die Wet op Ouer Persone, Wet 13 van 2006.

Volgens die aanklagstaat het die ses beskuldigdes na bewering gedurende 2024 en 2025 die 90-jarige Verona Reay, ’n brose bejaarde vrou wat aan demensie gely het, wederregtelik en opsetlik mishandel.

Die beweerde mishandeling het volgens die staat bestaan uit optrede en/of die versuim om gepaste sorg en aandag aan haar fisieke, geestelike en emosionele welstand te gee, wat na bewering skade en emosionele nood veroorsaak het.

Die beweerde voorvalle het by die Silver Village-aftreeoord in die Lejweleputswa-distrik plaasgevind.

Ludidi het bevestig dat die bestaande borgvoorwaardes van al ses beskuldigdes onveranderd bly en streng nagekom moet word.

Verhoor steeds nie aan die gang nie

Die saak sleep reeds langer as ’n jaar deur die howe nadat die ses beskuldigdes in Julie 2025 in hegtenis geneem is.

Volgens ingeligte regsbronne kan die voortgesette uitstelle daartoe lei dat die verhoor eers in 2027 begin. Die Welkom-landdroshof sluit op 11 Desember vir die jaareinde en heropen eers in middel-Januarie 2027.

Die beskuldigdes is Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Nomsa Ngcongwane (56), Prudence Majorobella (35), Mofolo Ntswaki (30) en Puseleletso Mola (33).

Hulle staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, ontvoering en twee aanklagte van oortreding van die Wet op Ouer Persone (Wet 13 van 2006).

Ernstige bewerings van mishandeling

Die staat beweer dat die beskuldigdes die bejaarde Bettie Payne (81) fisiek en geestelik mishandel het terwyl sy in die versorgingseenheid vir verswakte inwoners by ’n ouetehuis in Welkom gewoon het.

Tydens ’n vorige hofverskyning het die hof benadruk dat die aanklagte uiters ernstig is en dat swaar gevangenisstrawwe opgelê kan word indien die beskuldigdes skuldig bevind word.

Volgens getuienis wat vroeër tydens die hofverrigtinge aangebied is, het Brummer die slagoffer na bewering aangerand. Daar is ook verwys na ’n stemboodskap waarin sy glo teenoor die slagoffer se dogter erken het dat sy die bejaarde vrou geklap het.

Die saak het in 2025 landwyd opslae gemaak nadat video-opnames uit die slagoffer se kamer bekend geword het. Die beeldmateriaal en foto’s toon na bewering verbale, geestelike en fisieke mishandeling, waaronder dat die bejaarde vrou met kleefband vasgebind is.

Foto’s wat tydens die ondersoek na vore gekom het, toon glo kneusplekke, krapmerke en beserings aan haar hande, gesig en lippe.

Borgtogvoorwaardes bly van krag

Brummer is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat, terwyl die ander vyf beskuldigdes elk op borgtog van R1 000 vrygelaat is.

Haar borgtogvoorwaardes verbied haar onder meer om die ouetehuis te besoek, met die slagoffer of enige getuies kontak te maak, of binne ’n radius van 100 m van die ouetehuis te kom.

Die ses beskuldigdes bly onskuldig totdat hulle skuldig bevind word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article