Lieandri Ackermann, die FAK se kultuurnetwerkkoördineerder vir die sentrale streek, staan gereed om gemeenskappe te help om hul erfenisbakens te bewaar, soos hierdie gedenknaald vir genl. J.J. Fick voor die stadsaal in Ficksburg.
Lieandri Ackermann, die FAK se kultuurnetwerkkoördineerder vir die sentrale streek, by die gedenknaald vir genl. J.J. Fick voor die stadsaal in Ficksburg. FOTO: Gerrit Rossouw

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) versterk sy teenwoordigheid in die Oos-Vrystaat met Lieandri Ackermann wat as kultuurnetwerkkoördineerder vir die sentrale streek aangestel is.   

Ackermann, wat reeds langer as vyf jaar vir die FAK by die Voortrekkermonument gewerk het, het ’n nuwe hoofstuk in haar loopbaan betree. Sy sal haar ná haar huwelik met Gerrit Rossouw in Ficksburg vestig om haar nuwe verantwoordelikhede daar op te neem.

In haar nuwe rol sal sy toesig oor die hele Vrystaat, asook Potchefstroom en Klerksdorp, hou. Hoewel die hoofbasis van FAK-Sentraal steeds by die FAK-Udolpho-Rivierplaas buite Parys geleë bly, sal haar teenwoordigheid gemeenskappe in die Oos-Vrystaat nader aan ondersteuning bring.

Lieandri Ackermann (regs) saam met ’n musiekgroep voor die Voortrekkermonument.
Lieandri Ackermann (regs) saam met ’n musiekgroep voor die Voortrekkermonument. FOTO: Verskaf

Ackermann het gesê dat sy daarna uitsien om as skakel tussen die FAK en gemeenskappe op te tree. Sy het gemeenskappe aangemoedig om hul projekte onder die FAK se aandag te bring. Sodoende kan die organisasie ondersoek instel na moontlike betrokkenheid en toepaslike ondersteuning verleen.

Waar permitte vir die herstel van konsentrasiekampterreine of ander erfenisterreine benodig word, kan die FAK kundige advies en begeleiding bied. Die organisasie kan ook met finansieringsaansoeke help en ondersteuning met administratiewe prosesse verskaf.

Haar rol behels nie slegs administrasie nie, maar ook aktiewe deelname aan gemeenskapsprojekte. Sy sal strategiese raad gee en praktiese ondersteuning verleen waar dit nodig is.

Met die oog op die jeug as draers van die toekoms, ondersteun die FAK landswyd verskeie skoolprojekte. Debatvoering, voordrag, kooruitvoerings en kultuuraande word deur die organisasie bevorder. Slypskole word aangebied om jongmense op kulturele gebied toe te rus.

Ackermann beoog om gehalte kuns-, taal-, kultuur- en geskiedenisprojekte in die Oos-Vrystaat verder te ontwikkel. Sy wil nuwe projekte identifiseer en samewerking tussen betrokkenes bevorder.

LEES OOK: FAK ontvang versameling van komponis Chris Lamprecht (97) se werke

Sy sal ook aandag aan die beskerming van erfenisterreine teen verval gee. Wanneer die publiek kwessies aanmeld, kan die FAK kundige insette lewer en toepaslike ondersteuning bied.

Een van haar planne is om maandeliks op ’n ander dorp in haar streek te fokus. Sy beoog om die geskiedenis, bakens en unieke stories van hierdie dorpe op sosiale media te deel en plaaslike trots sodoende te versterk.

Belangstellendes wat as Vriende van die FAK wil aansluit of by die KultuurKafee betrokke wil raak, kan haar as streekskontakpersoon nader. Volgens Ackermann kan volhoubare kultuurwerk slegs deur aktiewe gemeenskapsdeelname en gedeelde eienaarskap geskied.

Met haar vestiging in die Oos-Vrystaat en haar duidelike visie vir samewerking, sal haar aanstelling nuwe momentum aan kultuurwerk in die sentrale streek gee.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article