NovaNews

Vonnisoplegging van Welkomse prokureur begin in hooggeregshof


Die vonnisoplegging van ‘n prokureur van Welkom Jan Gysbert Maritz (57), wat skuldig bevind is op 16 aanklagte insluitend verkragting, het vanoggend nog ‘n wending geneem nadat hy sy regspan se mandaat onttrek het.

Die prokureur Jannie Kruger het Maandag 6 Oktober tydens die hofverrigtinge in Bloemfontein aan aanlyn aan regter Soma Naidoo verduidelik Maritz het hom op 1 Oktober ingelig dat hy sy regspan se mandaat onttrek.

Dit kom nadat sy advokaat adv. Dawie Joubert SC hom glo van die saak moes onttrek omdat hy ‘n hartoperasie in London moes ondergaan. Kruger het aanbeveel dat Adv. Francois Roets, by Joubert oorneem, maar Maritz het gemeen dat ‘n nuwe advokaat nie in een week al die voorbereiding vir sy saak kon doen nie.

Maritz het vroeër op 18 aanklagte ingevolge die Wysigingswet op die Strafwet (Seksuele Oortredings en Verwante Aangeleenthede) Wet 32 van 2007, asook ‘n bykomende aanklag van aanranding, terreggestaan.

Die seksuele misdrywe het oor sewe jaar tussen 2007 en 2014, in Virginia, Welkom en Odendaalsrus in die Vrystaat plaasgevind.

Al sy slagoffers was onder die ouderdom van 18 jaar toe die misdrywe gepleeg is.

Op 17 Mei 2021 het Maritz aanvanklik onskuldig gepleit. Op 21 Mei 2021 het hy egter formele erkennings ingevolge Artikel 220 van die Strafproseswet, Wet 51 van 1977 gemaak, wat deur die hof aanvaar is.

Gebaseer op hierdie erkennings het die hoogeregshof hom op 16 aanklagte skuldig bevind, insluitend drie aanklagte van verkragting en verskeie ander aanklagte wat seksuele misdrywe teen minderjariges behels.

Ná sy skuldigbevinding het Maritz sy regsverteenwoordiging verander en adv. Dawie Joubert SC aangestel, wat twee aansoeke, insluitend ‘n aansoek dat regter Soma Naidoo, op gronde van beweerde vooroordeel haar aan die verhoor onttrek, asook ‘n aansoek om Maritz se erkennings ter syde te laat stel.

Die hoogeregshof het albei aansoeke van die hand gewys en bevestig dat die verhoor regverdig en sonder vooroordeel was, sê Senokoatsane.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die NVG, het in ‘n verklaring in Augustus oor waarom die saak sloer, gesê ‘n aansoek om die ontrekking van Naidoo is ook deur die appèlhof van die hand gewys en daarna het die konstitusionele hof geweier om die saak aan te hoor, wat daarop dui dat alle regsremedies uitgeput is.

Amanda Bester, staatsaanklaer, het Maandag die afdanking van Maritz se regspan bestempel as nog ‘n vertragingstaktiek.

Die vonnisoplegging duur Dinsdag 7 Oktover voort. Die hof sal na verwagting die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf oorweeg, ingevolge artikel 51(1) van die Strafregwysigingswet 105 van 1997 weens die verkragting wat minderjariges onder verswarende omstandighede.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article