’n Groot hoeveelheid dwelms is in die rustige dorpie Wesselsbron in die Vrystaat deur die Welkom-polisie se Teenmisdaad-eenheid by twee vermeende dwelmhandelaars gevind.
Die twee is in hegtenis geneem nadat die polisie inligting oor hulle opgevolg het.
Kaptein Stephen Thakeng, woordvoerder vir die polisie in Lejweleputswa, sê in ’n verklaring dat misdaadintelligensie inligting oor die twee wat met dwelms handel dryf, ontvang het. Op 25 Augustus het die polisie dié spesifieke huis genader. “Die verdagtes het probeer om die dwelms te vernietig, maar dit was te laat, omdat die lede vinnig en takties die perseel genader het,” sê Thakeng.
’n Man van 34 en ’n 29-jarige vrou is vir die besit en handel in dwelms in hegtenis geneem.
Die polisie het beslag gelê op 15 sakkies Crystal Meth wat 13,48 gram weeg, 38 sakkies dagga wat 139,21 gram weeg, 19 vol en een kwart Mandrax-tablette, asook R2 670 kontant.


