Verskeie verlate munisipale voertuie word na bewering helder oordag
Verskeie verlate munisipale voertuie word na bewering helder oordag vir onderdele gestroop. Foto: Verskaf

Skokkende wanbestuur is ontdek by die munisipale veeplaas in Bothaville, waar R7 miljoen se voorafbetaalde elektrisiteitsmeters verdwyn het, verlate voertuie gestroop word, en ‘n eens florerende plaveiselmonteeraanleg ineengestort het − wat werksgeleenthede vernietig.

Tydens ‘n onlangse toesigbesoek deur die DA, Vrystaatse Wetgewer en lede van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), saam met plaaslike en distriksraadslede Thinus Barnard en Mahalia Khosi, is verskeie kritieke bekommernisse geïdentifiseer. Sleutelgebiede wat geïnspekteer is, sluit in die veeplaas, die polisiekantoor en die gevaarlike R59-pad.

“Die veeplaas is in algehele verval, met ‘n vervalle heining en geen sekuriteitspersoneel nie. Verskeie verlate munisipale voertuie word na bewering helderoordag vir onderdele gestroop. ‘n Onbeveiligde pakhuis bevat ongebruikte voorafbetaalde elektrisiteitsmeters ter waarde van miljoene − hierdie meters was van die verkeerde spesifikasies en kon nie gebruik word nie, maar is nooit terugbesorg nie,” sê Barnard.

Hy sê die besoek het verder aan die lig gebring dat die dorp se infrastruktuur aan ineenstorting oorgelaat is; die Bothaville-polisiestasie is as onveilig veroordeel, met geen aanhoudingselle en te min beamptes om inwoners se veiligheid te verseker; en die R59-pad wat Hoopstad, Bothaville en Klerksdorp verbind, het ‘n doodslokval geword.

“Honderde kinders loop daagliks hierdie gevaarlike roete om skole te bereik,” sê hy.

Bothaville, bekend as die mieliehoofstad van Suid-Afrika, is noodsaaklik vir streekslandbou. Die vervoer van produkte het egter buitensporig duur geword as gevolg van swak padtoestande en ‘n afwesigheid van doeltreffende spoorwegdienste. Om ‘n ton mielies per vragmotor te vervoer, is byna drie keer duurder as per trein. Die onlangse ineenstorting van ‘n toegangsbrug het ook ‘n ompad van 40km afgedwing om die silo’s te bereik.

Bothaville het geweldige potensiaal, soos blyk uit die aanbieding van die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article