Drie sindikaatlede wat mense beroof en ontvoer het en hulle dan in die Sandrivier buite Virginia gegooi het, is in die rondgaande hof in Virginia gevonnis.
Die sindikaat was van Desember 2021 tot Mei 2022 in die Goudveld bedrywig en het ’n man, Maleke Francis Rakaki (51), vermoor toe hulle hom in die Sandrivier gegooi het. Rakaki het vir Eskom gewerk en is op 12 Maart verlede jaar deur Christine Masiza (29) genader.
Die sindikaat was van Desember 2021 tot Mei 2022 in die Goudveld bedrywig en het ’n man, Maleke Francis Rakaki (51), vermoor toe hulle hom in die Sandrivier gegooi het.
Rakaki het vir Eskom gewerk en is op 12 Maart verlede jaar deur Christine Masiza (29) genader.
Masiza het haar as ’n prostituut of ’n vrou in nood voorgedoen en sou mans uitlok om langs die pad met haar te praat voordat die res van die sindikaat toegeslaan het en die slagoffer ontvoer het.
Drie mans is so ontvoer en in die Sandrivier gegooi, terwyl ander mans op ander maniere geteiken is.
Rakaki het nie die voorval oorleef nie en sy lyk, met ’n plastieksak oor sy kop en sy hande en voete vasgebind, is vanaf ’n brug in die rivier gegooi.
Rakaki is met ’n mes gesteek en sy maroen Mazda CX5 en R1 400 is by hom geroof.
Vroeër dieselfde dag het ’n ander man Masiza genader en is toe ontvoer. Die man is in sy silwerkleurige Volkswagen Polo se bagasieruim ingedwing en ook van sy motor, selfoon en kontant beroof. Hy is gedwing om in die rivier te spring, maar kon swem en het die voorval oorleef.
Die derde slagoffer het met ’n grys Toyota Corolla gery en is in April verlede jaar van sy motor, selfoon, bankkaarte en dokumente beroof. Die sindikaat het hom ook in sy eie motor se bagasieruim gelaai en by ’n brug gedwing om in die rivier te spring. Die man het ook die voorval oorleef.
Die staat het tydens die verhoor aangevoer dat die drie, Masiza, Moeketsi Shadrack Vinger (30) en Tshepo Humphrey Pitso (29), met ’n gemeenskaplike doel opgetree het.
Masiza is van Thabong, Welkom; Vinger van Botshabelo, Bloemfontein; en Pitso van Bultfontein.
Vyf mense is vir die misdade in hegtenis geneem, maar twee is vrygespreek.
Die bende is in hegtenis geneem nadat hulle Rakaki se motor se nommerplate op die grys Toyota Corolla gebruik het en die motor in Mei 2022 naby Bultfontein opgemerk is.
Vinger is op nege aanklagte skuldig bevind, waaronder twee aanklagte van ontvoering en twee van roof met verswarende omstandighede, asook een aanklag van moord. Hy is tot 15 jaar gevonnis vir die roof en lewenslank vir die moordklag.
Masiza is tot effektief nege jaar tronkstraf gevonnis vir haar rol in die rooftogte en ontvoerings.
Pitso is skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede en gevonnis tot drie jaar tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.
Regter JP Daffue het die beskuldigdes verhoor en adv. Dansi Mpemvane het aangekla.
Twee sersante, Andrew Lechesa en Seleke Khosana, het saamgewerk om die voertuie op te spoor en die verdagtes in hegtenis te neem.





