Op 5 Februarie vier die Sonskyn-projek sy 39ste bestaansjaar van toegewyde hulpverlening aan minder bevoorregte mense in die Goudveld, veral tydens moeilike omstandighede.
Die projek is in 1987 deur Alet Viljoen gestig. Viljoen het voor haar reis na toegewyde humanitêre en welsynswerk eers 25 jaar diens by Sasol 1 in Sasolburg gedoen.
“My passie is minderbevoorregte blanke gesinne en my liefde vir God. Met sy genade en seëninge en die hulp van die gemeenskap kan ek die projek doen,” sê Viljoen.
Tans is 30 gesinne, bestaande uit 200 mense, op die projek se rekordhouding.
“Elke tweede week probeer ons met klere, breekgoed en veral nie-bederfbare kos, toiletware en soortgelyke artikels help. Die projek se doel is om gesinne te help om hulself weer te help. Ons probeer vir hulle werk kry, en help ook met terug-skool-toe-benodigdhede soos klere, skoene, studiehulp en sportgoed,” sê sy.
In wintertyd word warm baadjies, truie en komberse uitgedeel. Gesinne kry dan ook sop en toebroodjies.
“Matriekafskeidtyd is ‘n groot voorreg, en danksy baie borge kan elke meisie of seun sy groot dag geniet. Hulle word met klere, skoene, haredoen, ‘n motor en vele meer gehelp.
“Aan die einde van die jaar word geskenke uitgedeel en tydens ‘n groot omgeedag gespeel. Die projek bedank elkeen wat betrokke is. Julle maak ‘n groot verskil in ander se lewe,” sê Viljoen.





