’n Winkelier (27) van ’n konsessiewinkel by President Steyn-myn in Welkom is ontvoer, en sigarette en kontant is geroof.
Hy is ongedeerd vrygelaat nadat ’n losprys betaal is.
Die polisie in Welkom het Saterdag (20/08) omstreeks 19:30 inligting van ’n geskietery by die President Steyn-mynkoshuis ontvang.
By ondersoek het die polisie ontdek dat ’n 27-jarige winkelier ontvoer is. Die ontvoerders het ook in die rigting van ’n vriend van die ontvoerde man geskiet. Hy is nie beseer nie.
“Die winkelier is op ’n onbekende plek aangehou en die ontvoerders het ’n losprys van sy familie geëis.
“Die polisie het onmiddellik die Welkom K9-eenheid, ’n gyselaarsonderhandelaar, Welkom Openbare Orde Polisiëring, Bidvest mynsekuriteit en die Welkom Misdaadvoorkomingseenheid ontbied,” sê kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte vir die polisie in Lejweleputswa.
Hy sê die ontvoerde man is later alleen op die Welkom-Virginia-pad, by Bronville, gevind. Hy was ongedeerdonbeseerd.
’n Saak van ontvoering, sakeroof en poging tot moord is vir verdere ondersoek geopen.
Mense met inligting kan die polisie op die noodnommer 08600 10111 bel.





