Vroeg Woensdagoggend is twee vermeende motorfietsdiewe op heterdaad betrap terwyl hulle ’n motorfiets langs die spoorlyne in Jan Hofmeyerweg, Welkom, gestoot het.
Lede van die Welkom K9-eenheid was Woensdag 14 Junie omstreeks 02:37 besig met sigbare polisiëring en misdaadvoorkoming in Welkom se sentrale sakegebied toe hulle Matjhabeng-sekuriteitsbeamptes opgemerk het wat naby ’n wit motorfiets by ’n fietswinkel in Jan Hofmeyerweg staan.
Ná verdere ondersoek het die polisielede gesien hoe die twee verdagtes besig was om die motorfiets op die treinspore te stoot. Toe die polisie die twee benader het hulle die motorfiets gelos en weggehardloop.
Die verdagtes is agternagesit. Een is in hegtenis geneem en aan die Welkom K9-eenheidlede oorhandig.
’n Nege-en-twintig jarige man is met die voorval verbind en in hegtenis geneem.
Die motorfietseienaar is in Koppie Alleenweg in Welkom opgespoor en wakker gemaak. Hy was nie bewus daarvan dat die motorfiets gesteel is nie en het ’n saak van diefstal geregistreer.
Die verdagte staar klagtes van die vermoedelike besit van ’n gesteelde motorfiets, en diefstal van ’n motorfiets in die gesig.


