‘n Jong vrou van Virginia het bewys dat sy ‘n goeie hand in die tuin het nadat haar reuse-sonneblom almal verstom het.
Sarah-Lee Rütters (24) van Riebeeckstad, Welkom, is ‘n kranige tuinier wat van kleintyd af saam met haar pa geplant het. Nou het sy ‘n sonneblom gekweek waarna almal kyk.
Die indrukwekkende plant is drie meter hoog van die grond tot aan die boonste punt, met ‘n stam wat 18 sentimeter in deursnee is. Die sonneblom het 17 verskillende koppe, waarvan 13 tans in volle blom is.


“Dit is die derde keer dat ek sonneblomme gesaai het, maar dit is die eerste keer dat dit so hoog geword het,” vertel Rütters trots. Die plant is gekweek van saad wat sy reeds in Oktober 2025 geplant het.
Volgens Rütters lê haar geheim daaraan dat sy met haar plante praat, baie aanraking met hulle het en hulle baie liefde gee. “Ek glo dit maak ‘n verskil,” sê sy.
Die talentvolle tuinier se sukses beperk haar nie net tot sonneblomme nie. Sy het ook uie geoes wat van saad gekweek is sedert Mei 2025. Die grootste ui vanjaar het 424 gram geweeg.
Dit lyk asof alles wat Rütters plant in oorvloed gekweek word, en sy bewys dat toegewyde sorg en liefde tot buitengewone resultate kan lei in die tuin.






You must be logged in to post a comment.