BloemNuus

Nasionale ingryping gevra by Mangaung-stortingsterreine in Bloemfontein

Vullis wat buite die Mangaung-metro se noordelike stortingsterein lê.

AfriForum het ’n dringende brief aan die departement van bosbou, visserye en omgewingsake gerig rakende die voortslepende, skokkende toestand van die Mangaung-metro se stortingsterreine.

Die terreine word steeds bedryf in omstandighede ver onder die wetlik voorgeskrewe minimumstandaarde, wat ernstige gevare vir die omgewing en gemeenskappe se gesondheid inhou.

Ongeag AfriForum se herhaaldelike skrywes hieroor aan Sello More, munisipale bestuurder van die Mangaung-metro, is geen reaksie ontvang nie.

Mense wat op die stortingsterreine bly vererger gevaar met brande. FOTO’s: Verskaf

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, is More se swak kommunikasie en toetrede onaanvaarbaar.  “Hierdie passiwiteit is onaanvaarbaar, veral in die lig daarvan dat die terreine nie voldoen aan die Nasionale Omgewingsbestuur: Afvalwet (Wet 59 van 2008) nie; ’n groot besoedelingsgevaar vir grond en grondwater inhou weens gebrekkige beheermaatreëls; onbeheerde brandstigting veroorsaak, wat lugbesoedeling en asemhalingsrisiko’s vererger; en onbestuurde afvalherwinnaars op die terreine toelaat, sonder enige vorm van toesig of beskerm ing,” sê Grobbelaar.

“Die toestand van die Mangaung-stortingsterreine is ’n ernstige oortreding van omgewingswetgewing én ’n direkte bedreiging vir menslike gesondheid,” voeg Grobbelaar by. “Ons sal nie skroom om strafregtelike stappe teen Mnr. More in te stel indien daar nie onmiddellike en sigbare vordering gemaak word nie.”

In die brief wat AfriForum Maandag 25 Augustus aan die departement gerig het, vra die organisasie vir ’n ondersoek na voldoening by die Mangaung-stortingsterreine. AfriForum vra die departement ook om direktiewe uit te reik om te verseker dat alle toepaslike wetgewing en standaarde nagekom word, en dat munisipale amptenare aanspreeklik gehou word vir hul rol in hierdie voortdurende omgewings- en gesondheidskrisis.

Stukkende masjinerie en voertuie op die stortingsterreine in Bloemfontein.

AfriForum spreek ook sy uiterste teleurstelling uit oor die feit dat More onlangs ’n 100% telling vir sy sleutelprestasie-aanwysers (KPI’s) ontvang het, terwyl die werklikheid op voetsoolvlak ’n heeltemal ander prentjie skets. “Dit is onaanvaarbaar dat ’n amptenaar so ’n uitmuntende beoordeling kry, terwyl die metro se vullisterreine in ’n toestand verkeer wat nie eens aan basiese wetgewing voldoen nie. Hierdie wanverhouding tussen amptelike verslae en die feite op die grond dui op ernstige gebreke in aanspreeklikheid en bestuursintegriteit in die metro,” sluit Grobbelaar af.

“AfriForum doen ’n ernstige beroep op die owerhede om sonder verwyl op te tree om verdere skade aan die omgewing en die gemeenskappe van die Mangaung-metro te voorkom.”

AfriForum se brief aan die departement volg op ‘n gemeenskapsvergadering Donderdag 21 Augustus waarin moedelose inwoners hulle sterk uitgespreek het oor al die talle probleme by die metro se noordelike stortingsterrein. Lees meer in BloemNuus.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article