Bou vaste, ware verhouding met Hom

Peet Louw Erfdeel gemeente, Riebeeckstad

Kevin Skinner was ‘n Amerikaanse hoendervanger in Kentucky, Amerika. Sy werk was om lewendige hoenders na groot verwerkingsaanlegte te vervoer. Kevin was vir 35 jaar lank onbekend. Hoewel hy countrymusiek gesing het, het min mense hom geken, behalwe sy werksmense, vriende en familie. Toe wen Skinner in 2009 America’s Got Talent en hy raak wêreldbekend.

Ons almal droom daarvan om bekend te wees. Ons sien daagliks honderde bekendes op ons fone en begeer dalk heimlik om so te wees. Rondom ons is bekende mense, soos politieke leiers, kerkleiers, onderwysers, gemeenskapsleiers.

Bekendheid bekoor ons, want bekendheid laat ‘n mens belangrik laat voel.

Die Bybel praat ook baie van mense wat wêreldbekend geword het. Hebreërs 11 noem ‘n klomp geloofshelde wat die wêreld beïnvloed het met hul geloof, maar van Hebreërs 11:35 af verander die prentjie skielik wanneer daar nie meer name genoem word nie. Dit sê net “ander” wat gemartel, bespot, gevang, verdruk, mishandel is. Dit was onbekende mense wat in grotte gebly het. Hulle geloof was bekend, maar niemand onthou hulle name nie, want onbekendheid in God se koninkryk beteken nie dat jy onbelangrik is nie.

In God se oë is onbekendheid en onbekende seisoene in jou lewe heilige ruimtes. Dit is dikwels dié tye wanneer jy geestelik die meeste groei, omdat jy meer worstel met die betekenis van die lewe wanneer jy voel niemand weet van jou nie en niemand sien jou raak nie.

Dit was in ‘n sekere sin ook waar van Jesus. Die stories van sy lewe vertel net van die drie jaar wat Hy op aarde gelewe het. Hy was net vir ‘n kort tydjie in die kalklig en selfs toe het Hy nooit agter die kalklig aangehardloop nie.

Hy het nooit daarop gefokus om ‘n groot skare mense te trek nie of om Homself te bemark nie. Hy het dikwels sommer net iewers gaan wegkruip as te veel mense van Hom ‘n ophef probeer maak het. Jesus het geweet onbekend is nie gelyk aan onbelangrik by God nie. In Lukas 14:11 sê Hy nederige mense word op die ou end bekroon en belangrike mense word verneder.

Matteus 5:5 sê gelukkig is almal wat nie dink hulle is belangriker as ander nie. Matteus 20:27 sê as jy bekend wil wees soos ‘n leier, moet jy ‘n dienskneg word.

Die kalklig is wisselvallig. Dit skuif baie vinnig na die volgende opkomende ster of die volgende sensasie. Skinner het in 2012 heeltemal van die toneel verdwyn. Selfs al is jy baie bekend, moet jy weet jy kan dalk môre vergeet word daarom is dit so belangrik dat jy liewer meer aandag aan jou siel sal gee. Moenie jou hoop op die kalklig en bekendheid stel nie. Moenie jou waarde soek en vind in wat ander mense sê en dink nie. Fokus liewer op Jesus en bou ‘n goeie verhouding met Hom, want as die kalklig skuif, is jou verhouding met Hom al wat oorbly.

In Galasiërs 4:19 sê Paulus God ken jou en dit is genoeg! As jy onbekend of alleen voel, moenie smag na die aandag van mense nie, want dit hou nie lank nie. Bou liewer jou verhouding met Jesus want dit hou vir ewig.

■ Peet Louw is van die Erfdeel-gemeente in Riebeeckstad.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article