’n Geliefde Goudvelder en ’n groot naam in Noord-Vrystaat- en skolerugby-kringe is op 9 Desember, 26 dae ná ’n padongeluk in Odendaalsrus, oorlede.

Die voertuig waarin Chris Krause (70), sy vrou, Annette, en skoonsuster, Cecile Noppe, gery het, was op 14 November omstreeks 18:45 in ’n botsing met die voertuig van ’n sekuriteits­maatskappy betrokke.

Dié ongeluk het Krause se lewe eindelik ná etlike dae in die waakeenheid geëis. Hy het erge interne beserings opgedoen en sy hart het ingegee, sê sy dogter, ook Annette.

’n Saak van manslag word deur die Odendaalsrus-polisie ondersoek.

Krause se vrou sterk nog in die hospitaal aan.

“My pa was geken vir sy liefde vir en betrokkenheid by sport: Sy bemarkingdae vir die Griffon-rugbyunie in Welkom, die organisering van gholf- en rolbaldae, en hy was ook rugbykommentator op televisie én radio.”

Eugene van Wyk, uitvoerende hoof van Griffon-rugby, het sy medelye uitgespreek.

“Krause was sedert 2001, toe ek by hulle aangesluit het, betrokke by Griffons Rugby.

“Hy was altyd met verskeie take besig, maar het hoofsaaklik die bemarking van die Griffons behartig. Hy het ook altyd as aankondiger gedurende rugbywedstryde opgetree en het verseker dat berigte van die Griffons in die koerante was.

“Chris het baie vir ons beteken, en hy het ’n lang pad met die Griffons gestap. Ons gaan hom baie mis.

“Baie sterkte aan die familie met jul groot verlies.”

Vroeër jare was Kause rugbyskeidsregter, radio-om­roeper vir sport en ook krieket-telling­houer by die Benson and Hedges-krieket­veld in Virginia. Hy was ook baie betrokke by die Harvinia-klub in Virginia en het vir die klub krieket en tennis gespeel.

Boonop het hy op menige geleentheid titels in snoeker, veerpyltjies en domino’s verwerf.

Annette sê haar pa was nie net op sportgebied bekend nie, maar ook as ’n uitstekende verkoopsman.

Met sy bemarkings­tegniek en verkoops­vermoë in die motorindustrie het hy eerste prys as verkoopsman by Virginia Toyota losgeslaan, en dié pryse het haar pa en ma een jaar ’n vakansie in Hong Kong besorg, sê sy.

“Al was sy liefde vir sport groot, het my pa se liefde vir my ma en vir ons kinders en die familie geen perke geken nie. Hy en my ma sou volgende jaar hul 50ste huweliksherdenking gevier het,” sê Annette.

Krause word oorleef deur sy vrou en sy kinders, JC, Thea, Annette en Christine; sy skoonseuns, Piet, Anthony en Richard; en sy skoondogter Ulricke. Die kleinkinders is JP, Saman­tha, Rachel, Caitlin, Dyllan, Haley-Ann, Cailyn, Taylor, Chris-Marie, Miekè en ’n agterkleinkind, Zane. Hy laat ook sy susters Adrie, Hester en Dorothy agter.

Krause is reeds veras, en ’n gedenkdiens sal vroeg in die nuwe jaar plaasvind wanneer Annette uit die hositaal ontslaan word.

Rig navrae aan Annette McLaren by 083-973-4919.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article