Die gemeenskappe in Soutpan en Ikgomotseng in die Mangaung metro-munisipaliteit het al meer as ’n dekade lank erge watervoorsieningsprobleme verduur.
“Die metro se aanhoudende versuim om te kommunikeer, oplossings te vind of gebeurlikheidsplanne uit te voer, het hierdie krisis aansienlik vererger,” sê Selmé Pretorius, raadslid.
Sy sê inwoners moet met uiterste weerstoestande soos hittegolwe, veldbrande en droogtes worstel sonder betroubare toegang tot water. Inwoners is tot so lank as vier weke sonder voorraad.
“Uit desperaatheid wend sommige hulle tot die versameling van water uit strome of selfs diere se drinkbakke op plase. Verskeie faktore dra tot hierdie wateronderbrekings by, insluitend wanbestuur, gebrekkige infrastruktuur en onstabiele elektrisiteitsvoorsiening.
“Die metro se gebrek aan duidelike kommunikasie oor die aanbring van kragopwekkers vererger egter die kwessie. Boonop het die metro se versuim om derdeparty-verskaffers te betaal, gelei tot herhaalde opskorting van dienste by die Krugersdrifdam-watersuiweringsaanleg, wat tot langdurige wateronderbrekings gelei het,” sê sy.
Die teenstrydige watertoevoer duur voort met sommige inwoners wat weke sonder water verduur of slegs beperkte toevoer gedurende bepaalde ure ontvang.
Pretorius sê die verwaarlosing vorm ’n ernstige humanitêre krisis, wat onmiddellike regstelling vereis.




