BETHLEHEM – ‘n Veilingmeester van Bethlehem het hom weer onder Suid-Afrika se voorstes gevestig toe hy onlangs die South African Institute of Auctioneers (Saia) se nasionale veilingkampioenskap in Johannesburg gewen het. Die kompetisie is onlangs by die Wanderers Club aangebied, waar van die land se beste veilingmeesters om die hoogste eer in die bedryf meegeding het.
Vincent Pike, wat in 2024 as Saia se veilingmeester van die jaar gekroon is, het ná ’n onderbreking van een jaar weer die titel verwerf en daarmee sy groeiende reputasie binne die veiling- en lewendehawebedryf versterk.
Die jaarlikse kampioenskap dien as ‘n platform waar topveilingmeesters hul vaardighede voor ’n gehoor van eweknieë, beoordelaars en hoogwaardigheidsbekleërs ten toon stel. Deelnemers word beoordeel volgens hul voorbereiding, beheer van bieërs en bieë, betrokkenheid by die gehoor, sangstyl en die algehele sukses van hul veilings.
Pike, wat as lewendehaweveilingmeester by Vleissentraal Bethlehem werk, het in vanjaar se kompetisie ‘n wynveiling en jagpakket met groot selfvertroue en uitstekende beheer aangebied. Sy vermoë om die gehoor te betrek en die tempo van die veiling noukeurig te bestuur het eindelik daartoe gelei dat ‘n aansienlike bedrag vir liefdadigheid ingesamel is.
Wenner deel geheime
Volgens Pike lê die geheim van suksesvolle veilings in deeglike voorbereiding en die vermoë om vinnig besluite te neem sonder om die ritme van die veiling te verloor. Hy meen dat ‘n veilingmeester nie bloot artikels verkoop nie, maar ook vertroue by bieërs moet skep en die regte energie tydens ‘n veiling moet handhaaf.
“Voorbereiding is alles in hierdie bedryf. Jy moet die lotte ken, die mark verstaan en weet hoe om die gehoor saam met jou te neem,” sê hy.
Hy beskryf die lewendehawe-omgewing as een van die mees tegniese velde binne veilingmeesterskap, waar konstante berekeninge, markkennis en vinnige besluitneming noodsaaklik bly.
Titel bou op sukses én berei toekomspad voor
Pike se jongste oorwinning word gevoeg by ‘n indrukwekkende lys prestasies – onder meer die titel van die Toyota SA National Young Livestock Championship in 2023 en die titel as Saia se veilingmeester van die jaar in 2024 insluit.
Hy rig nou sy oë op die internasionale verhoog, waar hy Suid-Afrika van 14 tot 17 Julie in die National Auctioneers Association Competition in San Antonio, Amerika, wil verteenwoordig. Hoewel hy reeds verlede jaar vir die kompetisie gekwalifiseer het, het geldelike uitdagings hom verhinder om deel te neem. Vanjaar hoop hy egter om sy talent teen van die wêreld se beste veilingmeesters te bewys.





