Mark Louwies, skoolhoof Goudveld-Hoërskool, Derby 2026 boodskap:
Die Derby tussen Goudveld-Hoërskool en Welkom-Gimnasium is meer as net ‘n sportnaweek. Dit is deel van die geskiedenis, trots en hartklop van ons gemeenskap – ‘n tradisie wat oor dekades heen families, oudleerders, spelers en ondersteuners saamgebind het.
Vir baie oud-Gouties bring hierdie week herinneringe terug van pawiljoene wat dreun van gees, busse vol opgewondenheid, moddervelde, oorwinnings, teleurstellings en vriendskappe wat vir ‘n leeftyd gevorm is.
Vir ons huidige leerders is dié Derby die geleentheid om deel te word van daardie nalatenskap. Nie net om ‘n wedstryd te speel nie, maar om die naam van hul skool met trots te dra en te wys waarvoor Goudveld-Hoërskool werklik staan.
By Goudveld gaan dit oor baie meer as net tellings en uitslae. Ons grootste trots lê in die karakter van ons kinders – hul respek, hul veggees, hul dissipline, hul lojaliteit en die manier waarop hulle hulself dra, selfs onder druk.
Ons wil hê dat almal by die Derby moet wegstap met die besef dat Goudveld-Hoërskool nie net ‘n skool is nie, maar ‘n gemeenskap met waardes, hart en trots.
Geniet elke oomblik. Hierdie dae gaan vin-nig verby. Speel hard, ondersteun met trots, maar dra julleself altyd met waardigheid. Julle verteenwoordig iets groter as net julself – julle verteenwoordig jul families, jul skool en ‘n trotse tradisie wat oor jare opgebou is.
Dankie aan ons personeel vir die ure, opoffering en voorbereiding wat agter die skerms ge-
beur. Min mense sien die werk raak, maar sonder julle sou hierdie geleenthede nie moontlik wees nie. Ons wens Welkom-Gimnasium ook sterkte toe met hul voorbereiding en aanbieding van vanjaar se Derby. Byvoorbaat dankie vir die reëlings, moeite en gasvryheid wat met so ‘n groot geleentheid gepaardgaan. Ons waardeer die werk wat agter die skerms gedoen word om hierdie trotse tradisie lewendig te hou.





