My menigstuk dié week is gebaseer op Eksodus 33:7-23. Max Lucado bid: “Maak die lug swaar met U teenwoordigheid, maak dit mistig met U majesteit. Stoot die hemel se gordyn oop en laat U wese uitstroom, God, wys vir ons God.”

Daar kom tye in ons lewe dat ons lewe met donkerte en krisisse besaai is. Dit is asof ons nie God se hand in die omstandighede raaksien nie of dat die Here my nie hoor nie. Die volk van God trek uit Egipte en is op pad na die beloofde land Kanaän. Vanweë hulle afvalligheid pleit Moses dat die Here saam met hulle moet trek. Moses vra om God se heerlikheid te sien sodat hy die volk kan lei en homself kan versterk. “Hy wat my soek sal my vind,” sê die Here die Almagtige. Niemand het God nog gesien nie, maar Sy magtige teenwoordigheid sal julle beleef.
Die woord “heerlikheid” gaan oor die belangrikheid, die grootheid van God. God se heerlikheid vra alles van ons – ons vaste vertroue, ons lewe.
Moses kom van die berg af en sy gesig straal van heerlikheid. Moses het in die teenwoordigheid van die Here beweeg.
2 Korintiërs 3:18 sê: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van Christus, want die sluier is van ons gesig weggeneem. Ons beeld, ons lewe word verander. Die heerlikheid van God word al meer, dit doen die Here wat Gees is.”
Dit is nie maklik om in moeilike omstandighede die Here se aangesig te soek nie. Ons is kwaad, hartseer of teleurgesteld in onsself of mense
Dit is nie maklik om in moeilike omstandighede die Here se aangesig te soek nie. Ons is kwaad, hartseer of teleurgesteld in onsself of mense.
Wees soos Moses – soek die Here se heerlikheid, Sy aangesig. Klim op die berg, soek ‘n plek van afsondering. Bid tot die Here en roep Hom aan. Ons het vriende en familie, kinders van die Here wat saam met ons wil bid en die Here se genade soek in ons lewens. Bid dat ons wegkyk van ons omstandighede, en ons emosies. Jesus het in die tuin van Getsemane vir Sy dissipels gesê: “Bly hier, waak saam met my, bid vir my.” Dit was vir Jesus ‘n moeilike tyd. En tog het Jesus gebid: ”Vader, laat U wil geskied.”
Bid dat die Here met Sy ligglans, Sy heerlikheid in jou donkerte, jou seer kan verlig sodat jy troos kan vind in Sy nabyheid, Sy trou, Sy liefde vir jou.
– Ds. Philip Mc Laren: Oase-gemeente Welkom.





You must be logged in to post a comment.