“Ons is hier om oor die Goudvelde en sy mense te skryf.” Dít is die boodskap wat die uitgewers op die voorblad van die heel eerste Vista op 23 April 1971 geskryf het.
Tye het verander, mense het gekom en gegaan, maar Vista is – ná 55 jaar – steeds deel van die Goudveld-gemeenskap.
Die verkoopspan bied meer as 150 jaar se gesamentlike ondervinding, met die langste dienende lid van die span wat meer as 40 jaar al by Vista is en die redakteur wat 37 jaar ondervinding het.
Deur vloede, tornado’s, modderstortings, geboortes en feesvieringe lewer Vista verslag oor feite – onbevooroordeeld en soos dit is. Vista het die mees gekwalifiseerde span om ‘n gehalte-aanbod van advertensies en nuus na gemeenskapslede se voordeur te bring.
Bo alles is Vista trots om die onafhanklike waghond van die gemeenskap te wees.

Die koerant se bestaan van langer as ‘n halfeeu is nie ‘n geringe prestasie nie, gegewe die ekonomiese swaarkry wat die streek oor die jare heen in mindere of meerdere mate ervaar het. Te midde hiervan dra Vista ‘n vlam wat almal betrokke by dié koerant aan die gang hou, die belofte wat heel aan die begin gemaak is: om die gemeenskap te dien. Vista onderneem om dié verbintenis in die toekoms gestand te doen, met dieselfde ywer as die vorige 55 jaar.
Benewens die talle plaaslike eerbewyse vir bydraes tot die gemeenskap, is Vista bekroon as beste gemeenskapskoerant in Suid-Afrika in die gesogte Sanlam-kompetisie vir Community Press in 1993.
Vista was twee keer tweede in hierdie afdeling, en vyf keer die beste gemeenskaps-koerant in die sentrale streek. Toe die afdeling in 2004 weer ingestel is, is Vista as een van die top tien beste gemeenskapskoerante in Suid-Afrika aangewys.
Vista was die Vrystaat-wenner in die PMR Africa Golden Arrow 2008-toekennings en die beste streekkoerant in Suid-Afrika toe die ATKV Veertjies vir 2012 toegeken is.
Die uitgawes van toentertyd was bielie-koerante. In 1981 het ‘n 192-bladsy-koerant Hendrik Mulder van die Perskor-drukkery laat sweet. Dié omvangryke uitgawe het op 27 November van daardie jaar die lig gesien.
Mulder, toe die voorman van die drukkery in Kroonstad, het vertel dat hy die Dinsdag om 03:00 aan die koerant begin werk het en dat die taak eers klaar was toe hy om 20:00 die Donderdag by sy huis gekom het.




“Toe was die koerant eers klaar gedruk,” het hy gesê.
In daardie jare was daar geen rekenaars nie; elke woord in Vista is op Mulder se reëlstelmasjien gesit. Hy het vertel dat wanneer die drukpersoneel moeg was, hulle ‘n bietjie langs die masjiene gaan lê het.
Sedert die sewentigerjare is die styging in lewenskoste duidelik as ‘n mens na advertensies en beriggewing in Vista oplet. In 1971 het boerewors 24c per pond gekos, terwyl maalvleis 24c per pond gekos het en steak 30c per pond.
Op 30 Mei 1975 kondig Vista aan dat munisipale tariewe met ‘n gemiddelde van R4,50 sou styg.






You must be logged in to post a comment.