Die Hoërskool Hentie Cilliers het in sy tweede jaar van deelname aan die FBI-sjef van die jaar-kompetisie twee wenners opgelewer, en die skool het algeheel eerste geëindig.
Die kompetisie vir 2025 is op Vrydag, 1 Augustus, in Bloemfontein gehou. Dit is die 20ste jaar dat die gesogte erkenning gegee word, en die kompetisie bied leerlinge die geleentheid om deel van die bedryf te word deur ‘n hoëstandaardkompetisie.
In 2024 was dit net die begin vir die Hoërskool Hentie Cilliers. Helene Rossouw, verbruikerstudieonderwyseres, het toe haar eerste Hentie-leerling vir hierdie kompetisie voorberei.
“Ons het geweet dat 2024 net die begin van ‘n opwindende reis vorentoe vir baie groot dinge in die verbruikerstudie-klas was, en ons het die eer gehad om in daardie eerste jaar reeds vyfde te eindig,” sê ‘n trotse Rossouw.
In 2025 het twee leerlinge aan Henties vinnig die eindronde bereik.
Lesego Maine is as die algehele wenner gekroon met haar oondgebraaide varkfilet en knoffel-kapokaartappel, afgerond met ‘n geroosterde tamatie en rys-teriyaki-sous. Sy het die maaltyd afgesluit met ‘n sjokolademalvapoeding bedien met sjokoladesous.
Sy het ‘n geskenkpak van Marlo Pork gewen en ‘n kontantprys, toegeken vir die beste hoofgereg. Sy het ook ‘n geskenkpak met Lancewood-kooktoerusting ontvang. ‘n Tienliter-lugbraaier was deel van Lesego se pryse.
Sy het boonop ‘n wisseltroffee ontvang.
Food and Beverage Institute (FBI) bied aan Lesego ‘n beurs van R30 000.
“Lesego beoog om haar passie vir kos uit te leef in haar beroepskeuse,” sê Rossouw.
Caitlin Scheepers, wat diehoofmeisie van die Hoërskool Hentie Cilliers is, het ‘n vyfde plek en ‘n beurs van R15 000 by aan die FBI in die kompetisie verwerf.
“Die kompetisie se peil is baie hoog, met professionele sjefs as beoordelaars.”
Rossouw is dankbaar vir die geleentheid om deel te neem, want deur die kompetisie word die deur oopgemaak na internasionale sjefkwalifikasies vir haar leerlinge.
“Ek sien uit na 2026 en begin al idees soek om nog ‘n wenner te laat kroon,” sê Rossouw.









You must be logged in to post a comment.