Marius Engelbrecht van die Despatch en Uitenhage Herwonne-watergroep by van die skenkings vir gesinne op plase in droogtegeteisterde gebiede. Foto: HEILIE COMBRINCK


’n WATERGROEP van Despatch en Uitenhage wat gebruik maak van herwonne water om hul tuine in stand te hou, het vragte vol skenkings van noodsaaklike huishoudelike items sowel as vars water aan boere in die omliggende droogtegeteisterde gebiede geskenk.

“Om verby droë damme, wat soos bruin oopgebreekte legkaarte lê, te ry en maer diere te sien, ruk ’n man se hart,” sê Marius Engelbrecht van die Despatch en Uitenhage Herwonne-watergroep.

“Dié gesigte van droogte het my laat worstel. Ek het vir my vrou (Lynette) gesê dit pla my, ons moet iets doen om op ons manier te help.”

Lynette het meer uitgevind oor die pakkies wat opgemaak word vir boervroue in droogtegebiede. Oplaas het die Engelbrechts besluit om eerder pakkies (met die hulp van mense wat deel is van die watergroep) vir die geaffekteerde gesinne op te maak.

“As ek by die huis uitstap, weet ek daar is kos, ook vir die kat en hond. Maar vir baie van die boere is daar nie meer geld vir luukshede nie. Ook nie vir kos vir hulle diere nie.

“Die reaksie van die mense op die watergroep was ongelooflik,” sê Marius.

Die pleidooi het uitgekring en die watergroep is bygestaan deur die buurtwaggroep van Streltiziapark en Fairbridge Heights op Uitenhage, wat bakkievragte vir die projek aangery het.

Al dié pakkies is onlangs by die padstal buite Jansenville afgelaai, vanwaar dit verder aan gesinne op plase in die Pearston-, Kleinpoort- en Waterford-areas versprei is.

Die publiek en sakeondernemings wat dié projek ondersteun, is bedank vir hul bydraes.

“Dit maak ’n groot verskil in die lewens van die gesinne wat deur die droogte geraak word,” sê Engelbrecht.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article