Port Elizabeth Doeanehuis in 1895.Foto: THE CASUAL OBSERVER

’n Sierlike trapknop van gesnede hout, nou ’n kosbare versamelstuk, is al vir 43 jaar die stille getuie vir Aubrey Joubert (78) van die vlammehel wat een van Port Elizabeth se pragtigste geboue verswelg het.

Al wat hy kon red, was dié trapknop. Voordat dit op die vertoonkas van sy huis in Scheepershoogte op Uitenhage beland het, het dit eers 40 jaar lank diens as deurstop gedoen.

“Ek is seker dit is ’n enigste-in-sy-soort houtsneekuns-trapknop, want dit is spesiaal vir die indrukwekkende trappe van die Port Elizabeth Doeanehuis gemaak. Dit is ’n waardevolle artefak en vir seker ’n versamelaarsitem,” sê Joubert.

Aubrey Joubert (78) by die sierlike trapknop van gesnede hout, wat hy 43 jaar gelede uit ’n vlammehel gered het. Foto:HEILIE COMBRINCK

Die navorsing wat hy op hierdie stuk houtsneekuns gedoen het, dui daarop dat dit in Birmingham, Engeland gemaak is.

“Ek het dit nie gevat om dit te steel nie, ek het dit gevat om dit te red,” beklemtoon Joubert.

Joubert was destyds as sersant in die spoorwegpolisie en aan diens op die Sondagmiddag in 1978 toe die Doeanehuis, tóé een van Port Elizabeth se aristokratiese geboue, gebrand het.

“Die gebou was ’n argitektoniese meesterstuk en dit was binne net so pragtig. Veral die doeanesaal op die boonste vloer waar daar eens waardevolle kunsstukke gehang het.”

Maar nadat die gebou in 1977 in onbruik verval het, hoofsaaklik weens die opskorting van posskepe na Suid-Afrika, het boemelaars daar ingetrek en het een van hul vuurtjies die brand veroorsaak.

“Ouens het my by die spoorwegpolisiekantoor op die stasie kom roep en gesê die Doeanehuis brand. Die gebou was ’n klipgooi van die kantoor af en ek is dadelik daarheen.”

Joubert het met die trappe opgehardloop om ondersoek in te stel.

“Maar die brand was reeds buite beheer. Die boonste vloer se dak het begin inval. ’n Klomp duiwe het verwilderd rondgevlieg en die vlamme het vinning na die Grand Staircase begin beweeg. Ek het besef ek moet uit – dit was te gevaarlik.

“Op pad af vat ek aan een van die trapknoppe en besef toe ‘… jisou … dit is baie mooi houtsneekuns wat vir seker ook gaan brand.’ Ek ruk toe die houtknop met fors af. Dié artefak was eers in mylocker by die werk voordat ek dit huistoe gebring het.”

Port Elizabeth Doeanehuis ná die brand (regs van die Campanile). Foto: THE CASUAL OBSERVER

Na die brand in 1978 is die Doeanehuis nie herstel nie en het dit verder verval totdat dit in 1982 gesloop is.

Joubert sê hy het die houtsneewerk-trapkop na die 1820-Setlaarsvereniging geneem, maar hulle was nie daarin geïntereseerd nie.

“Dit is waardevol. Ek is so bang as ek doodgaan gaan die kinders dit as vleisbraaihout gebruik,” skerts Joubert.

“So as daar iemand is wat sou belangstel in die houtknop, kan ons gesels. Dit moet behoue bly vir die nageslag.”

Joubert was vir 42 jaar in die polisiediens, eers by die spoorwegpolisie en later in die Suid-Afrikaanse polisiediens. Hy het in 1997 uitgetree as ’n speurder adjudant-offisier.

Meer oor die ou Doeanehuis:

Weens die toename in seeverkeer, was dit in die laat 1880s nodig om ’n nuwe groter Doeanehuis by Port Elizabeth se hawe te bou met Adolph Gislingham Howard as die argitek.

‘n Gedeelte van die see by die destydse North Jetty naby die Campanile-toring is drooggelê en uitgrawings vir die konstruksie het op 20 November 1889 begin. Die gebou is in 1891 in gebruik geneem en was by die hawe se hoofingang. Met die bou van die destydse Charl Malan-kaai in 1933 is die see ’n verdere 137.16 meter drooggelê.

Huis

Die oop stuk grond is waar die Doeanehuis vroeër jare was. Foto: GOOGLE MAPS

Die Doeanehuis was die plek waar bagasie en goedere deursoek is. In dié era voor inkomstebelasting was doeanebelasting ‘n groot bron van inkomse vir Port Elizabeth en doeane-beamptes was van die hoogsbesoldigste amptenare.

Na ’n erge vloed en stormweer in 1908, is bevind dat die gebou se hooftoring van Victoriaans-Gotiese styl, te onstabiel was en is dit toe gesloop.

Volgens Dean McCleland van The Casual Observer, was die sloping van die ou Doeanehuis die ergste van al die historiese geboue van Port Elizabeth wat verlore geraak het. McCleland het ook geskryf dat die oprigting van die Setlaars-hoofweg aan seefront die hart van die stad (Sentraal) vernietig het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article