Die Laerskool Excelsior se graad R speelgronde het nuwe lewe gekry.


OOS-KAAP Voortrekkers het op 1 Mei as ’n eer aan Louisa Meyburgh se nagedagtes in haar voetspore gevolg.

Louisa Meyburgh, Elizabeth Fry, Florence Nightingale en Emily Hobhouse staan bekend as vroue wat onbaatsugtige naastediens aan die gemeenskap in nood verrig het.

Louisa Meyburgh het in 1900 in Port Elizabeth gearriveer, en het as ds. Pienaar, leraar van die NG gemeente op Uitenhage, se regterhand begin diens doen onder die Afrikanervolk, het ’n onlangse verklaring van Oos-Kaap Voortrekkers gelui.

Meyburgh het kerkdienste en bidure gehou vir verpleegsters en Afrikaanse meisies wat in die fabrieke gewerk het en op 8 Oktober 1905 die Kinderkrans, ACVV, Vrouevereniging en die Strewersvereniging (CSV) in Port Elizabeth gestig.

Die Oos-Kaap Voortrekkers se eerste stop op Werkersdag was by die Laerskool Excelsior waar hulle saam met skoolhoof Elmarie Lötter en hulle filantrope die klimrame by die skool se graad R speelgronde nuwe lewe gegee het.

’n Groot dankie het uitgegaan aan verkoopsbestuurder Freddie Greeff en takbestuurder Warren Collier van Buco Noordeinde vir die skenk van die verf.

Die volgende stop was ’n besoek aan Meyburgh se graf in die Noordeinde begraafplaas. Sy is op 26 Februarie 1956 op die ouderdom van 79 oorlede.

“Patrick Bouwer van die NG Moedergemeente het die Voortrekkers en leerders van die Laerskool Excelsior met outydse hartlikheid ontvang. Dis ’n ondervinding om in die oudste Afrikaanse gemeente in Port Elizabeth te sit en te deel in die storie oor die merkwaardige vrou wat ook op 16 November 1929 die hoeksteen van die kerksaal gelê het.

“Na ’n besoek aan haar huis in Geardstraat 16, wat bekend gestaan het as die Huis van Gebed, het ons die maats van Excelsior gegroet,” het Adri Steyn, bemarkingskoördineerder vir Oos-Kaap Voortrekkers, gesê.

Doxa Deo en Waypoint gemeentes organiseer jaarliks ’n “Street Store” waar hulle 1 000 behoeftige mense in die gemeenskap seën met klere/skoene en kos vir liggaam en siel. Die Voortrekker familie het hande gevat met projekbestuurder Elaine Ferreirra en sowat 60 bokse klere en skoene afgelewer.

Die finale stop was by Huis Louisa Meyburgh wat in 1976 gebou is ter ere van die Engel van die Stad. Daar het die Voortrekkers saam met Marlene Basson (streeksorganiseerder) en Antoinette van Vollenstee van Solidariteit Helpende Hand die bejaardes bederf met ’n spesiale program genaamd Seniors in Aksie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article