Jeuglede van Die Voortrekkers kan in hul graad 12 jaar die bekroonde Presidentverkenner toekenning op nasionale vlak verwerf nadat hulle ’n deurlopende proses van leierskapontwikkeling vanaf graad 8 tot 12 voltooi het.
Hierdie jeuglede moet ook ’n goeie reputasie in hul skool, kerk en die Voortrekkerkommando handhaaf om hierdie toekenning te verwerf.
Die deurlopende Presidentsver-kenner proses behels jaarlikse bywoning van kampe asook die suksesvolle voltooing van gespesialiseerde take en opdragte. Die hele proses word dan afgesluit met ’n nasionale teoretiese eksamen in April en ’n finale afrondingskamp in Julie.
Ruan Ells, De Villiers Wessels, beide leerlinge van HTS Daniel Pienaar en Herman Lamprecht, leerling van die Hoërskool Despatch het die nasionale teoretiese eksamen met lof geslaag en die Presidentsverkenners-proses suksesvol voltooi.
Die Hoofdagbestuur van Die Voortrekkers ken daarom aan hulle die Nasionale Presidentsverkenner toe-kenning vir kulturele leierskap toe wat op Saterdag, 19 Augustus tydens ’n spoggeleentheid in Despatch aan hulle oorhandig is.





