Die VLV Carpe Diem-tak het ook die VLV Tuin wat in 1959 ingewys is, skoongemaak, plante geplant, en onderneem om voortaan maandeliks dié tuin te versorg.

Foto: Verskaf

Die VLV Carpe Diem-tak het ook die VLV Tuin wat in 1959 ingewys is, skoongemaak, plante geplant, en onderneem om voortaan maandeliks dié tuin te versorg.

’n Chinese spreekwoord lui dat die beste tyd om ’n boom te plant, is 20 jaar gelede en die tweede beste tyd is vandag.

Die VLV Carpe Diem-tak op Kariega het dié spreekwoord ter harte geneem en bome regoor die dorp geplant.

“Ons het begin om eerste bome vir ons kinders te plant en wat ’n wonderlike ervaring was dit nie. Ons het vier Buddleja Saligna boompies, die algemene boom van die jaar, by Laerskool Innes geplant,” sê Joey Fourie, voorsitter van die VLV Carpe Diem-tak.

By Innes het die graad 2-klasse elkeen eienaarskap van ’n boom geneem en selfs die bome name gegee.

“Só, ons het vir Rocky, Bella, Harry en Elsa in die kinders se sorg gelaat en by die skool weggery met ’n warmte in ons harte en ons oog op die toekoms. Want soos Warren Buffet gesê het, ‘Someone is sitting in the shade today because someone planted a tree a long time ago’.”

Daarna is die VLV-vroue van die Carpe Diem-tak na hul eie tuin, “waarvan baie van ons lede nie eens bewus was dat dit bestaan nie.”

Dié VLV-tuin in Sholtostraat, Penford, is in 1959 deur die VLV ingewy.

“Die tuin was baie vuil en ons het dit skoongemaak en twee strelitzias asook woestynrosies in ’n blombak geplant.

“Dit was ’n trotse gevoel om in ’n tuin te staan wat so lank gelede deur ons voorgangers verfraai is. Dit laat ons onwillekeurig dink aan vers vier van Die Stem, ‘Dat die erwe van ons vaad’re (moeders) vir ons kinders erwe bly’. “Die tuin is ongelukkig openbare eiendom en ons het geen beheer oor die mense wat daar mors nie, maar ons onderneem om voortaan maandeliks dié tuin te gaan skoonmaak,” sê Fourie.

  • Vir meer inligting of om aan te sluit by VLV Carpe Diem bel die voorsitter Joey Fourie by 082 824 7986.

UITGEREIK: VLV CARPE DIEM

’n Paar van die VLV Carpe Diem-tak se vroue saam met Laerskool Innes se skoolhoof, Luana Bester, tydens die boomplantdag by die skool.

Hier help Petrus Jacobs om bome by Laerskool Innes te plant terwyl Lynette Gouws van VLV Carpe Diem-tak toekyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article