Sowat 147 150kg plastiek en 39 363kg karton is die afgelope vyf jaar by die Mula-projek ingeruil vir kos, klere of opvoedkundige items.Foto:HEILIE COMBRINCK

OOR die afgelope vyf jaar het kinders sowat 147 150kg herwinbare plastiek en 39 363kg karton by die Mula-herwinningsprojek in Kamesh, Uitenhage, ingeruil vir kos, klere of opvoedkundige items.

Die projek het in Junie 2015 afgeskop met ’n gemiddeld van 66 kinders (onder 16 jaar) wat elke Woensdag deur die Mula-projek gehelp is. Dié getal het te midde van die verswakkende sosio-ekonomiese omstandighede gegroei tot ’n gemiddeld van 240 kinders wat per Woensdag by Mula aangemeld het.

Die Mula Swop Shop het ’n nasionale prys gewen omdat dit ’n wen-wen situasie is. Die kinders het nie net weekliks kos gekry nie, maar het ook deur hul herwinningspogings plastiekbesoedeling help bekamp.

“Konserwatief geskat baat minstens vier gesinslede per kind wat deel is van die projek,” sê Quinette Goosen, wat saam met ’n span raakvatters die projek bestuur.

Twee reuse terugslae, het die Mula-projek getref, maar moed opgee is min.

Eerstens het vandaliste op die Allanridge- gemeenskapsaal van waar die projek bedryf word, toegeslaan.

“Die eens pragtige fasiliteit is stelselmatig fisies afgebreek nadat daar niks meer oor was om te steel nie. Uiteindelik kon die projek nie verder vanuit die saal bedryf word nie.”

Die volgende groot terugslag was die Covid-19 pandemie. Die Mula-projek moes noodge- dwonge stop.

“Geen Mula beteken beslis ’n groot kosnood in die groter gemeenskap. Heelwat huisgesinne het oorleef van een Mula-dag na die volgende Mula-dag.

“Ons kon sien aan die hoeveelheid volwassenes wat saamgekom het om te help dra aan die herwinbare materiale, dat daar gesinne is wat ernstig staatmaak op die Mula se genade. Elke week het hulle soveel as moontlik herwinbares uit die omgewing gehaal sodat hulle ge-noeg Mula’s kon verdien vir ’n week se kos.

“Noudat die Mula-projek nie bedryf kan word nie, is die besoedeling van die gebied weer baie erg. Die gemors lê berge hoog en oral is daar plastiek,

“Dit is vir ons ’n groot frustrasie om nie te doen waarvoor Mula bedoel is nie, om armoede te help verlig en om die omgewing skoon te maak,” sê Goosen.

Sy sê die Mula-projek sal gewis voortgesit word, maar dit is nog onseker om sê in watter vorm dit sal geskied. Die span vrywilligers hou dinkskrums en ondersoek alle voorstelle.

Mula se onmiddellike nood is om weer ’n sentrale en veilige perseel te kry vanwaar die projek bedryf kan word. Die ander aspekte wat Mula halt, is inperkingsregulasies soos byvoorbeeld die beperking van 50 mense by byeenkomste.

“Die ander kwessie is dat die maatskappy wat ons herwinningsmateriaal oplaai, ons intussen in kennis gestel het dat die pryse van herwinbare materiaal wêreldwyd geval het. Hulle sit met opgehoopte voorraad omdat die maatskappy aan wie hulle verskaf, hul inname gesluit het,” sê Goosen.

Alhoewel die meeste van die Mula-vry- willigers afgetredenes is en dus meer vatbaar vir die Covid-19 virus is, wil hulle steeds hul deel doen om noodverlening vir kwesbare kinders te help bring.

“In hierdie grendeltydperk deel Mula daag-liks 100 brode en 100 pakkies met droë kos-mengsel uit. Dit is voldoende om ’n huisgesin van ses te voed. Tot dusver kon Mula nagenoeg 12 000 mense kos gee,” sê Goosen.

Intussen word daar swaar gesteun op skenkings van die publiek, hetsy finansieël of speelgoed, enige huishoudelike ware, klere en skoene.

  • Vir meer inligting oor Mula en hoe om betrokke te raak, kontak Quinette Goosen per epos by: uitenhagemulas@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article