Algoa Rally-klub gaan die enjins laat brul en wiele laat skreeu op HTS Daniel Pienaar se skoolterrein waar ‘n vinnige trajek van 1.6km Saterdag tydens die HTS Daniel Pienaar Rally Ronde 5 gehou word.
Die dag beloof om interessant op die Tiere-terrein te raak met ‘n DP Markdag wat van vroeg af op die A-veld gehou word sowel as ‘n 50-beurt krieketwedstryd op die B- en C-velde teen Parel Vallei Hoërskool om 09:00.
Vanaf 15:30 gaan rally-aksie die skoolterrein oorneem en DP se twee spanne wat ook gaan jaag. Leerder Clint Koekemoer en sy navigator, onderwyser Francois Anker sal in DP se 1.2 TSI VW Polo aan die S5-klas deelneem terwyl leerder De Villiers Wessels en sy navigator en onderwyser Martin Kleingeld in DP se 1.4 VW Citi Golf in die S1-klas te sien sal wees.
Dan is daar natuurlik ook die lawwe onderwyser-rallyspan met Francois Vermaak agter die stuurwiel met die befaamde Dakar Rally motortegnikus Paul Ludeke as navigator in hulle blitsige blou VW Citi Golf wat ook in die S1-klas deelneem.
Toegang tot die dag se aksie en vermaak is gratis en toeskouers kan verseker wees dat die adrenalien gaan vloei met die vinnige karre, veral die agterwielaangedrewe karre wat beloof om vir groot opwinding te sorg.
Die trajek by die skool gaan in omgekeerde rooster (reverse grid) gery word, wat beteken dat die karre wat die oggend eerste weggetrek het nou laaste gaan ry en dié wat laaste weggetrek het gaan eerste wegtrek. Die rallykarre gaan eers op die parkeerarea tussen DP en Hoërskool Strelitzia saamtrek voor hulle die laaste trajekte aanvat.
Die skool trajek word twee keer herhaal waarna die motors by die DP-klubhuis op die A-veld eindig vir die prysuitdeling.
– UITGEREIK: HTS DANIEL PIENAAR MOTORSPORT





